Onderhoud met meneer Prins as skoolhoof van Hoërskool Bonnievale
Was dit Meneer se plan om skoolhoof te word ná meneer Els se aftrede? Of is dit net iets wat oor Meneer se pad gekom het?
‘n Bietjie van beide. Ek het nie toe ek jonger was of as jong onderwyser gedink dat ek ‘n skoolhoof sal wil word nie. Toe ek in 2015 ‘n departementshoof word, het ek gesien dat ek dit nogal geniet om nie net op die leerders te fokus nie, maar ook onderwysers by te staan. Daar is die saadjie geplant dat ek begin dink het ek sal graag ‘n skoolhoof wil word. Die probleem was dat ek nie Bonnievale en HS Bonnievale wou verlaat nie. Met mnr. Els se aftrede het die geleentheid wel oor my pad gekom om hier te bly én skoolhoof te raak en ek is dankbaar dat ek die geleentheid gekry het.
Wat was vir Meneer die grootste uitdaging as skoolhoof?
Verskeie. Die onkunde van hoe sekere prosesse van die WKOD werk. Die ekstra verantwoordelikhede wat skielik op my skouers gelê het. Die frustrasie rondom aanstellings van goeie onderwysers in poste wat as gevolg van burokratiese rompslomp van die departement soms meer as ‘n jaar neem vandat jy begin adverteer het.
Wat is die mees opwindende deel van skoolhoof wees?
Om kinders wat sukkel met hul dissipline te sien omdraai, volwasse word, selftrots kry en hulle gedrag begin verbeter. Ook die sportgeleenthede waarby ons Bonnies betrokke raak. As taalonderwyser moes ek altyd oor naweke sit en opstelle merk en kon dus nie veel sport bywoon nie. Dit is nou vir my heerlik om langs die veld te staan en te sien hoe ons Bonnies hulle alles gee en met soveel trots vir die skool deelneem.
Wat het Meneer motiveer om die pos as skoolhoof te aanvaar?
Ek wou graag ‘n groter rol begin speel as om net elke dag in die klas te staan. Ek het gevoel ek kan op ‘n breër vlak bydra tot die skool en die dorp se vooruitgang.
Was dit vir Meneer moeilik om aan te pas as skoolhoof?
Aanvanklik ja. Die langer ure en minder tyd om met my familie en vriende te spandeer het my gevang. Gelukkig is die mens ‘n verskriklike aanpasbare wese en raak vinnig gewoond aan nuwe omstandighede.
Hoe voel dit vir Meneer om nie meer heeldag klas te gee nie?
Om nie meer twaalf periodes per dag in die klas te staan nie, is lekker, maar ek mis klasgee. Om nou net ‘n paar uur per week klas te gee is nie vir my ideaal nie, maar ongelukkig is daar baie situasies en gevalle waaraan ek dringend moet aandag gee; dit sal veroorsaak dat leerders in my klas onderrigtyd verloor. Maar in my hart wens ek ek kon ‘n ekstra klas of twee hê vir wie ek Afrikaans kon aanbied.
Wat is Meneer se visie vir die toekoms van die skool?
Dat Hoërskool Bonnievale ‘n uitnemende plattelandse skool sal wees. Die kinders wat kies om in hierdie skool te wees, hul ouers en die gemeenskap, verdien om die beste geleenthede en opvoeding moontlik te kry. Ons bied vêr meer geleenthede as ander klein plattelandse skole in Suid-Afrika en daarop is ek baie trots.
Wat sal Meneer nog graag in u loopbaan wil bereik?
Ek sal graag Hoërskool Bonnievale se leerderdissipline so goed wil maak dat dit iets is waarvoor ons skool beroemd raak. Daar is ‘n klomp leerders wat reeds hul bes gee, maar ‘n klompie se gedrag wat ons graag nog wil draai. As ek eendag iewers die tyd en geld kan bymekaarmaak, sal ek graag ‘n MBA-kursus wil voltooi. En as ek eendag genoeg ervaring het, sal ek graag skole wat sukkel wil bystaan om hulle skole beter te maak.
Ek verf graag en gebruik dit om my emosies in woorde om te sit. Ek geniet dit ook om opgekrul te sit met ‘n treffende boek. Ek hou ook baie van fotografie.