Nou sal die poppe dans
Ek het dans gedoen van graad R tot graad 5. Ek het aan ‘n groot verskeidenheid danssoorte deelgeneem, van hip-hop, tot ballet en selfs moderne dans. Dans was my passie. Ek het ure op die houtvloere van my dansonderwyseres se klein klassie geoefen. Ek het meer slaaplose nagte gehad as wat ek sou wou gehad het, as gevolg van al die aaklige spierkrampe en lyfseer.
Iets het foutgeloop… Hierdie was anders… Hierdie was my eerste groot mislukking as ‘n jong danser…
Ek het voor die beoordelaars gestaan soos ‘n bababokkie met ‘n bakkie se kopligte daarop gemik. Ek het my dansroetine heeltemal vergeet!
Dansstappe waaraan ek maande gewerk het, was heeltemal verlore in die chaos, ook genoem my brein. Ek moes maar net my eie dansbewegings opmaak. Ek het nie veel van ‘n keuse gehad nie. Natuurlik was hierdie “nuwe” dans nie so elegant, grasieus en ritmies soos my “ou” dans nie. Met ‘n onbeplande draai hier en ‘n onbeplande sprong daar, het ek my nuwe dans klaargemaak.

Die beoordelaars het — verbasend — meer van my nuwe dans gehou, as my dansonderwyseres s’n, wie se moeite en tyd in die drein afgeloop het! My uitslae vir die danseisteddfod was 70%.
Ek sou nie sê dat my uitslae die beste uitslag onder die son was nie. Dit was egter nog steeds beter as wat ek gedink het dit sou wees. Ek het verwag dat hulle my in die middel van my dans sou stop en sê: “Hoor hierso, stop maar, ons albei weet dat dit nie jou regte dans is nie. Loop!” Toe nou nie.
Die les wat ek uit hierdie ervaring geleer het, was dat om ten minste te probeer, is altyd beter as om op te gee.


Uitdagings mag dalk nie altyd lekker wees nie, maar wat anders sou die lewe interessant maak?
Sukses is die somtotaal van al jou klein pogings bymekaargetel.
“Ek het nie misluk nie. Ek het net 10 000 maniere gevind wat nie werk nie.” ~ Thomas Edison