“Nie alles altyd net goed of sleg nie” – Maret Carrol

“Nie alles altyd net goed of sleg nie” – Maret Carrol


Vir die heel eerste keer het ek gaan vakansie hou in Julie 2025 in Johannesburg en Witbank. Die meeste mense sou dadelik wonder waarom ek hierdie plekke sou wou besigtig vir vakansie. Die geraas, gejaag, die stad?

Alhoewel dit nie almal se voorkeur is nie, is dit definitief myne. Ek is iemand wat hou van besig wees, van gejaagd wees en wat mal is oor die stad. Die stad bied soveel opsies, geleenthede en dinge om te doen.

Ek, Abri Botes, in Johannesburg besig om die stad te verken by die Four Seasons Hotel in Westcliff. FOTO: Deirdre Watson

Ek wou nie my vakansie rondom die idee van ‘n “stad” vestig nie, ek het eintlik net vir my familie gaan kuier. Dit was die derde keer in my lewe wat ek hulle gesien het.

Die afwagting het in my gegroei. Dit was ook die eerste keer wat ek gevlieg het. Jy kan jouself indink hoe die adrenalien op die twaalfde Julie deur my liggaam gevloei het toe my vakansie eintlik begin het.

Ek het teen 12 uur die middag op O.R. Tambo geland. Ek en my familie het toe deur Kemptonpark gery waar hulle woon en roomys geëet en na die winkelsentrum gegaan.

Elke dag was ‘n avontuur, ‘n ontedekking met pure opgewondenheid soos die van ‘n klein kindjie. Ons was in Sandton by Nelson Mandela Square, Johannesburg Dieretuin, Monte Casino met die kuns in elke straatjie en Gold Reef City saam met my oom-hulle.

Die tye saam met my niggie en nefie was net lekker gewees toe ons kon sit en gesels en my niggie irriteer het, toe ons saam as familie gebraai, geëet en kaarte gespeel het.

Ek en my niggie, Kiara de Lange, by Johannesburg Dieretuin. FOTO: Hanno de Lange

Vir ‘n paar dae het ek ook by my tannie in Witbank gekuier, of soos dit vandag bekendstaan, eMalahleni, en daar die samesyn geniet. Ons het die nuwe Superman-film en F1-film gekyk en speletjies in die arkade gespeel. Dit was ook die week toe ek op Via se program Wie weet wat verskyn het en almal saam gekyk het. Al hierdie tye was kosbaar en verskriklik lekker!

Nou, nie alles is altyd net goed nie. Ek kon ongelukkig nie die vertoning van Sossi, met wie ek al ‘n onderhoud gehad het, gaan kyk het nie. Ons het ‘n yskaatsuitstappie gemis, waar ek in elke geval sou val, en ek het my vinger in ‘n deur van my vriendin en haar man se Porsche Turbo S se deur toegeslaan toe ek vir hulle in Parkhurst gaan kuier het.

Die lekkerste vakansie het tot ‘n einde gekom en ek moes terugkeer na realiteit. Om in die stad vakansie te hou is duur en tyd is ‘n faktor.

Dis toe waar die vakansie my ‘n les laat leer het oor die lewe in ‘n gesprek met ‘n nuwe kennis by ‘n Joshua na die reën-konsert. Sy het self in Johannesburg gewoon en kon haar ervaring deel. Ons albei het gevind dat die mense daar so vriendelik en gaaf is. Alles is besig en bedrywig.

Ek, Abri Botes, by Joshua na die reën se winterhuiskonsert toe ek die beste raad ooit ontvang het. FOTO: Jacques de Villiers

Dit was toe toe sy vir my die volgende sê: “Nie alles is altyd net goed nie en nie alles is altyd net sleg nie.”

Ek het toe besef dat daardie woorde goud werd is. Alles gebeur met ‘n rede en is vir jou vooruit beplan sonder dat jy enige iets daaraan kan verander.

Ja, jy kan nie jou lot bepaal nie, maar jy kan jou keuses bepaal. Al wat ons kan doen is om die goeie in alles raak te sien, want nie alles is altyd net sleg nie.

Loading


Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

16 + 12 =

Voorwaarts Skoolkoerant
Verified by MonsterInsights