Netbal-Nereen skitter

Nereen Goodman (o.18) van Hoërskool Bonnievale het aan die finale Wes-Kaap-netbalproewe deelgeneem wat die 18de en 19de Mei 2018 plaasgevind het. Nereen is gebore en getoë in Bonnievale en netbal is absoluut haar lus en lewe. Fleur Slot van Voorwaarts het met haar gesels.
Op watter ouderdom het jy begin netbal speel en watter posisie was dit?
Ek het op sewe (graad 1) vir die eerste keer netbal gespeel.
Wanneer was die eerste keer wat jy in die Wes-Kaap-span opgeneem is?
Ek was o.12 toe ek die eerste keer opgeneem is.
Wat is die verste wat jy al gekom het?
Die verste wat ek gekom het, is by SA Skole. Ek het al baie vantevore aan proewe deelgeneem, maar dit is moeilik om in dié span te kom. In 2012, 2013 en 2014 is ek in die Wes-Kaap-span opgeneem en het ek deelgeneem aan die SA Skole-netbaltoernooi.
Wie het begin agterkom jy is gebore met talent en jou in Hoërskool Bonnievale se eerste span laat speel? Hoe oud was jy toe?
Juffrou Aletta Els (Hoërskool Bonnievale se eerstespannetbalafrigter) het my begin raaksien. Sy was die een wat gesien het dat ek ’n gebore talent is. Toe ek 14 jaar oud was, het sy my in die eerste span laat begin speel.
Wie rig jou af en hoeveel keer per week oefen jy netbal?
Juffrou Els is my afrigter. Ek oefen vier keer ’n week en dan is daar natuurlik amper elke week wedstryde.
Hoeveel jaar speel jy nou al in die eerste span? En het dit jou beter gemaak om in die eerste span te speel?
Hierdie jaar is dit my vyfde opeenvolgende jaar. Ek is bevoorreg dat juffrou Els my raakgesien het en met my wou werk om my nog beter te maak. Dit is onbeskryflik hoe netbal my beter gemaak het. Ek het ongelooflik baie geleer die afgelope vyf jaar. Elke wedstryd leer ek uit my foute en so kan ek verbeter in die proses.
Wie is jou grootste ondersteuning in jou netballoopbaan?
Definitief juffrou Els. Ons kom al ’n lang pad saam en sy het my baie dinge geleer. Dit is die rede dat ek nou so ver gekom het met netbal. Dit is lekker en gerusstellend dat jy iemand het wat glo in jou en weet die persoon ondersteun jou wat ook al gebeur.
Het jy enige roetines wat jy doen voor- of in ’n wedstryd?
Nie waarvan ek bewus is nie. Wat ek wel voor elke wedstryd doen, is om te bid vir elkeen in die span en vir my teenstanders, dat niemand sal seerkry nie.
Wil jy na skool aanhou met netbal?
As dit God se plan is vir my, sal ek definitief aanhou speel. Netbal is immers een van my passies.
Wat is jou droom wat jy graag eendag met netbal wil bereik?
Ek wil net dolgraag ten minste een keer my land verteenwoordig.

Ek is eerlik, vrolik en hou van uitdagings. Ek hou van oefen, aktief wees en atletiek is my passie. Ek hou daarvan om tyd saam met my vriende en familie te spandeer.