Myrtle Rigg kry nuwe hoed
“‘n Baie belangrike bewaringsaksie is hierdie week in Bonnievale by die Myrtle Rigg-gedenkkerk gedoen”. Dit is die woorde van mnr. Pierre Albertyn, oud-Uitvoerende Hoof van Jonkheer en buurman van die Myrtle Rigg-gedenkkerk.
Op 12 Maart 2021 is die dak van die Myrtle Rigg-gedenkkerk deur Els Waterdigting van Bredasdorp reggemaak.

In Februarie 2021, die 100-jarige gedenkjaar van die kerkie, is die plaaslike Anglikaanse Gemeente (St. Stephens) genader vir toestemming en finansiële bystand om die dak weer ná 44 jaar reg te maak.
Die St. Stephens-gemeente, onder leiding van Vader Neil Weber, het toestemming gegee, so ook die Swellendam-ring. Uiteindelik het Biskop Brian Maharaj in George sy stempel op die besluit gesit en dra een derde van die koste tot die restourasie by.
Die res van die fondse is deur plaaslike donateurs ingesamel.
Die dak is met ‘n 4 mm Bitumen-membraan geseël, wat deur middel van ‘n aanbrandingsmetode op die dak vasgesit is.
Hier word die dak herstel:
Dié gedenkkerk is murg en siel deel van die geskiedenis van Bonnievale. Mnr. Christopher Forrest Rigg, ‘n Skotsman en stigter van Bonnievale, het self die kerk se hoeksteen in 1921 gelê, tien jaar ná die dood van sy dogtertjie, Myrtle Rigg. Sy is op 7-jarige ouderdom aan breinvliesontsteking oorlede, maar het voor haar dood vir haar pa gevra of hulle nie ‘n kerk in Bonnievale kan bou nie.

Mnr. Rigg het die bouklip sowat 30 m van die bestaande kerkie uit die heuwel gemyn. Teëls vir die vloer is vanaf Italië ingevoer. Hy het die huidige 200 jaar oue hoofdeur uit Zanzibar ingevoer en die twee sydeure uit Knysna.
Hy het hierdie saak met groot erns aangepak en voltooi dié eerste kerk in Bonnievale, presies 100 jaar gelede.
Myrtle se graf, net so 10 meter vanaf die kerk se voordeur, waak vandag nog oor die historiese gebou. In die voorportaal is ‘n foto van Myrtle met ‘n deftige kerkhoed op.
Die snerpende Bonnievale-winters en bloedige Bonnievale-somers het egter oor die dekades sy tol op die klipgebou geëis. In 1977, 56 jaar ná die hoeksteen gelê is, het Bonnievale Munisipaliteit aansienlike fondse vir die restourasie van die kerk geskenk.
Onder andere is die loodplate van die dak vervang met teerplate om die reën uit te hou.
Sedert 1977 is honderde troues en eredienste en selfs ‘n Kersspel of twee in die kerk gehou. Maar tyd staan nie stil nie en die wind en weer het oor die jare selfs die teerplate feitlik heeltemal laat disintegreer. Met elke reënbui het die dak soos ‘n spreekwoordelike sif gelek en is daar groot skade aan die kerkbanke, vloer en mure aangerig, soos in hierdie video gesien kan word:
Skaars twee dae ná die 2021-projek voltooi is, het die eerste harde reënbui in Bonnievale geval. Binne die kerkie was dit kurkdroog. En as jy mooi kyk, kan jy jou verbeel daar is ‘n glimlag om Myrtle Rigg se mondhoeke. Haar deftige kerkhoed is droog.

Ek is ‘n trotse Bonnievaler, wat hou van programering en musiek. En is natuurlik, ‘n trotse VOORWAARTS-redaksielid!
2 Replies to “Myrtle Rigg kry nuwe hoed”
Baie goeie berig!
Baie dankie, Christiaan, vir interessante inligting oor Myrtle Rigg-kerkie!