Me. Baadjies sorg dat HSB-baadjie blink

Me. Wilna Baadjies, een van Hoërskool Bonnievale se algemene assistente, hou van haar werk en om met kinders te werk. Hierdie jaar, 1 September, vier sy haar 29ste werksjaar by HSB.
“Ek is in Heidelberg gebore en ons het toe Kaap toe getrek. Ek het daar skoolgegaan tot gr. 3. Daarna het ons Slangrivier toe getrek en later Bonnievale toe gekom, waar ek skoolgegaan het tot gr. 8.
“Ek het Boland-verspring gedoen en my knie seergemaak. Ná skool het ek in my twintigs getrou en by Spar en in die Kaap gewerk.
“Ek het drie kinders. In 1993 het ek by Hoërskool Bonnievale begin werk.”
Sy vertel wat sy elke dag doen vir die personeel, kinders, en elkeen wat ons besoek. “Elke dag as ek skool toe kom, kom ek met ‘n lied in my hart om te werk. Ek geniet my werk by die skool. Hier by die skool verstaan ons mekaar en is ons soos ‘n familie. As daar probleme is, sorteer ons dinge dieselfde dag al uit en loop nie kwaad vir mekaar weg nie.
“Aan die begin van my dag sluit ek die personeelkamer oop en maak seker dat alles reg is. In skooltyd doen ek die pos en my takies. Die hele hoërskoolgebou is my afdeling. Ek maak seker die kleedkamers is skoon en netjies. Nou en dan help ek om dinge te bestel en aankope by Spar te doen.
“Alles wat ek doen, is regtig vir my lekker. Ek sê altyd dat ‘n vuil klas beter is as ‘n skoon klas, want dan het ek werk om te doen, waarvan ek hou. Ek sal nooit skel of kwaad raak omdat ‘n klas deurmekaar is nie. As die skool sluit, doen ek alles: Ek vee uit, was vloere, skuif reg en geniet alles.
“Ek werk regdeur die jaar. In die vakansie werk ons ‘n week en vat dan verlof. Ons werk dan weer ‘n dag voor die skool begin.
“Al wat ek vir die leerders wil sê, is dat hulle ons naam hoog moet hou. Hulle gesindheid moet reg wees en hulle moet hulle beste gee om die beste te kry. Hulle ouers gee vir hulle ‘n geleentheid om goeie opvoeding te kry wat die ouers dalk nie self gehad het nie.
“Ons gee vir hulle om. Ek is altyd trots op almal wanneer die rapporte afgehaal word en die skoolhoof sê dat daar ‘n 100%-slaagsyfer is. Dít maak my hart die blyste.”

Ek is baie lief vir diere en hou daarvan om nuwe goed aan te leer.