Matrikulante onseker oor na-skoolse lewe
Gaan ek studeer of gaan ek ‘n brugjaar (gap year) neem volgende jaar? Dit is die vraag wat tans in vele matrikulante van Hoërskool Bonnievale se koppe maal.
Op 4 Maart is verskeie matrikulante gevra oor hulle toekomsplanne vir die lewe en ná matriek. Party was nog baie onseker omdat daar soveel verwagtinge is en dit vir hulle ʼn aanpassing sal wees. Daar is so baie dinge om in ag te neem, maar hier is die terugvoer:
Waylietha Oerson sê, “Ek wil graag ná skool by ʼn universiteit gaan studeer as ek die geleentheid gegun word. Ek wil graag ʼn maatskaplike werkster word omdat ek ʼn passie het vir kinders en hul welstand.
“Sover is my planne om by UWC Regte te gaan studeer. Dit is iets wat ek baie graag wil doen en ek is doodseker oor my loopbaan, studierigting en instansie,” sê Kyreh-Lee Davids.
“My vertroue is op God en ek glo dat Hy ʼn weg sal maak. Ek het drome wat ek wil laat waar word en waarin ek glo. Ek wil graag gaan studeer, maar as ek nie kan nie dan sal ek n gap jaar vat en die volgende jaar weer probeer totdat my droom ʼn werklikheid is,” sê Angelo Jansen.
Mukelani Dube, onderhoofseun van die skool, sê, “Om eerlik te wees sal dit miskien n bietjie vervelig klink vir ander, maar ek moet ‘n keuse maak tussen wiskunde en fisika. Ek is seker daarvan dat ek gaan studeer, maar ek moet nog net ‘n keuse maak tusen dié twee studierigtings. Ek sien ook baie uit daarna, na wat alles vir my wag en die nuwe wat ek alles kan aanpak.”
