IT, jou volgende tree vorentoe?

IT, jou volgende tree vorentoe?


Ek hou baie van rekenaars. Hierdie masjiene het my van kleintyd af gefassineer. Ek kon myself nog nooit ‘n toekoms indink waar ek nie met een sal werk nie. Dit was dus ‘n logiese stap dat ons ‘n plan gemaak het vir my om Inligtingstegnologie (IT) as ekstra skoolvak in graad 10 te neem.

Die graad 9’s van Hoërskool Bonnievale (HSB) moet binnekort hulle kruisies trek om aan te dui watter vakke hulle in 2023 wil neem en ek wil graag soveel as moontlik graad 9-leerders motiveer om IT te kies.

Jou probleemoplossingsvaardighede ontwikkel

Niemand hou van probleme nie. Ons almal droom daarvan om enige probleem te kan oplos. Inligtingstegnologie het my geleer om probleme te vereenvoudig. JY moet bepaal wat die kern of basis van die probleem of vraag is wat gevra word. As getalle nie jou forté is nie, is IT ‘n alternatiewe manier om van probleemoplossing te leer.  IT werk sistematies, maar het ruimte vir kreatiewe probleemoplossings en werk nie so seer met moeilike abstrakte getalle en begrippe nie.

Wiskunde is soos klippies wat jy oor ‘n stroom moet volg. IT leer jy van boumateriale en jy moet self die brug bou. Fotos: actiondays.co.uk; gardenplansfree.com

‘n Voorbeeld van ‘n probleem is: ek moet oor ‘n rivier kom.

Met wiskunde is daar klippe in die rivier waarop ek moet trap om aan die ander kant van die rivier te kom.

Met IT leer ek van verskillende boumateriale en moet ek die brug self bou om oor die rivier te kom.

Werksgeleenthede

Die toekoms is rekenaars. Dit word gebruik van boerdery tot in mikroskopiese chirurgie.

Ek het in April hierdie jaar Stellenbosh se opedag bygewoon en daar het die IT-fakulteit ook bevestig dat elke student wat by hulle afstudeer verseker is van werk.

Inligtingstegnologie werk wel nie met konvensionele rekenaarprogramme soos Word en Excel, nie. Jy leer hoe om databasisse te skep in Microsoft Access of hoe om toeps en programme te ontwerp met Delphi.

Hierdie is meer spesialisvaardighede wat nie baie mense het nie en dit kan maak dat jy meer effektief in die werksplek kan funksioneer en programme skryf wat herhalende werk vir jou akkuraat kan doen.

Inligtingstegnologie kweek werkstrots

Ná ure se programmering – druk jy die laaste knoppie – en siedaar jou program werk. Jy het iets geskep wat jy kan toets en gebruik. As jy nou ‘n “probleem” by jou nuutgeskepte program invoer, hardloop die rekenaar binne sekondes deur al jou algoritmes en patrone en gee vir jou ‘n korrekte antwoord.

Christiaan de Wet besig om laat in die aand aan sy IT PAT te werk. Foto: Janien de Wet

Wat dit ook nog meer effektief maak, is dat die program wat jy geskryf het, soortgelyke probleme ook kan oplos.

Byvoorbeeld: ek het ‘n besigheid wat matte verkoop. Ek skryf ‘n program en nou kan ek enige vertrek se lengte en breedte insit, die soort mat kies en siedaar, daar skop die program vir my die kostes en die hoeveelheid materiaal wat ek nodig het uit.

My besigheid brei uit en ek verkoop nou ook teëls, gelamineerde vloere en muurpapier. Ek kan nog steeds die basis van die program gebruik wat ek geprogrammeer het en kan die program net nog verder uitbrei.

Dis amper asof JY voor ‘n reuse rivier staan en daar geen manier is wat jy aan die ander kant kan kom nie.  Jy haal jou beste programmeringsvaardighede uit en skep ‘n brug wat almal kan gebruik om hierdie rivier te kan oorsteek — jy sélf. Nou, as jy ooit weer ‘n soortgelyke deel van ‘n metaforiese rivier sien, kan jy net dieselfde voorafgeboude brug uithaal, of selfs weer van vooraf bou, want nou weet jy waar jy ‘n korter of makliker pad kan kry.

Dit is vir my lekker en ‘n aansporing om aan iets te werk en dadelik die resultate te kan sien, al is dit soms net ‘n halwe antwoord, sien jy jou vordering deurlopend. Moenie langer wag nie. Maak die regte besluit. Die toekoms is Inligtingstegnologie!

 

Inligtingstegnologie (IT) kan as ‘n ekstra (8ste) vak by Hoërskool Bonnievale geneem word. Dit word by ‘n buite-instansie geneem deur middel van afstandsonderrig. Die leerder sal dit wel aan die einde van graad 12 as een van sy/haar skoolvakke kan voltooi in die eindeksamen. Dit is belangrik dat so ‘n IT-leerder voltyds toegang tot ‘n rekenaar en internet moet hê.

Loading


Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

six − two =

Voorwaarts Skoolkoerant
Verified by MonsterInsights