HSB vier 80-jarige bestaan
Die afgelope naweek was Hoërskool Bonnievale (HSB) bevoorreg genoeg om 80 jaar van hoërskoolstatus te vier.
Die verrigtinge het op Vrydag afgeskop met nostalgiese toere deur die geskiedenisryke gange van HSB. Talle oudskoliere, oudonderwysers en oudskoolhoofde is die kans gegun om ná al die jare weer in dieselfde banke te sit as wat hulle jare vantevore gedoen het en terug te dink aan die goeie herinneringe wat gemaak en agtergelaat is.

Een van die dinge wat die toer deur die skool só nostalgies gemaak het, is die foto van Oom Koos, die skoolopsigter van HSB vanaf 1932 tot 1978.
Die toere deur die skool is egter nie waar die opwinding stopgesit is nie. Vrydagaand se dinee is deur 200 van die voormalige “trotse Bonnies” bygewoon en matrieks van 1952 tot 2006 kon hulle herinneringe van hul skoolloopbaan met mekaar deel.
Meneer Arend Moelich is ook vereer as die oudste matrikulant wat die gebeurtenis bygewoon het.

‘n Oudleerder van HSB (matriek 1982) het gesê: “Baie geluk met die hoogs professionele en suksesvolle wyse waarop die Hoërskool Bonnievale se 80-jarige bestaan aangebied en gevier is. Julle is puik!”
Ná ‘n heerlike ete is ‘n wynveiling gehou, wat wonderlik ondersteun is. Na afloop van die veiling is daar tot laat die aand gekuier en geklets en ‘n atmosfeer van opwinding en vreugde het die hele aand geheers.
Saterdag het die fees voortgegaan met talle klasreünies wat gehou is.
Sondagoggend is die eregaste met musiek verras tydens ‘n spesiale kerkdiens. Mnr. Johann Enslin het die orrel gespeel. Die sopraan, me. Teresa de Witt en die trompetspeler, mnr. Thinus Rossouw, asook ‘n massakoor, wat ‘n aantal van HSB se huidige leerders ingesluit het, het ‘n onvergeetlike kerkdiens aangebied.

Ek geniet dit om in die natuur te wees. Ek is lief vir musiek en rugby.