HSB hou formele matriek-uitstapdag
Op 10 en 11 Oktober 2019 het die matrieks van Hoërskool Bonnievale hulle laaste paar dae van skool gevier. Hierdie afgelope twee dae was volgens die gr.12’s baie pret, maar ook emosioneel.
Die matrieks en hulle onderwysers het vanjaar besluit om dinge beter en anders te doen op hul uitstap- en hemde-dag. Gewoonlik het die matrieks beide hierdie byeenkomste op een dag gehou. Hierdie jaar het dit oor ‘n tydperk van twee dae gebeur.
Op 10 Oktober het die matrieks, asook HSB-leerders, die geleentheid gekry om op die matrieks se skoolhemde te skryf en te teken.
Die grootste verandering was op 11 Oktober: Hoërskool Bonnievale het die uitstapdag op ‘n formele manier gehou, terwyl dit in die verlede meer informeel was.
Dr. Gillian Arendse, ‘n motiveringsspreker en adjunkdirekteur: Sentrum vir Studentewerwing en Loopbaanadvies aan die Universiteit Stellenbosch, het met die skool kom gesels.

Na die saalbyeenkoms het die matrieks vir oulaas die skoollied in die saal se voorportaal gesing en na die “Golden Gate” verdaag, waar mnr. Johan Els (skoolhoof) hulle simbolies terug “oorhandig” het aan hul ouers.
Jana Coetzee (gr.9) lewer haar opinie: “Ek voel dit is beter dat dit oor twee dae gehou word, want dit is baie meer formeel. Ek dink dat dit vir die matrieks baie spesialer is en dat dit vir ‘n slag iets anders is. Dit was ook lekker om na dr. Gillian Arendse se toespraak te luister.”
![]()

Ek is ‘n trotse Bonnie wat lief is vir musiek en diere. Ek geniet dit om saam met my vriende en familie te kuier.




