Hou net asseblief my hospitaalhart heel

Hou net asseblief my hospitaalhart heel


Suzan Wentzel en haar ma, Ilze Wentzel, omhels mekaar. Foto: Verskaf.

My hospitaalbed word ewe skielik omring deur mense. Ek besef: dis tyd.

Ek word met my bed by die saal uitgestoot en die tannie langs my wens my sterkte toe. Ek voel ‘n traan oor my wang rol. Ek hoor niks van my ma se kant af nie, so ek weet dat sy ook huil.

Ewe skielik breek die damwal en ek snik verbouereerd. Die persoon aan die voetenend vryf oor my voet om my gerus te stel, maar dit voel nie vir my of dit enigsins help nie.

Ons ry met die hysbak af tot by die deur waar die gruwelike woorde staan: THEATRE/TEATER. My ma word buite gelos en dit voel vir my of ek Donnalee Robertsis in Pad na jou hart.Ek draai om en sien my ma vir ‘n laaste keer voor die deure toegaan. Ek lê in die wagkamer en die trane loop soos watervalle.

Ek is alleen. Die narkotiseur kom vra of ek reg is. Ek knik net my kop, maar eintlik wil ek nee sê. Uiteindelik neem hulle my na die teater waar ek regop moet sit vir ‘n epiduraal.

Daar is seker tien mediese personeel om my. Ek moet met ‘n kussing voor my sit om regop en stil te sit. Almal praat deurmekaar en net ‘n paar sinne registreer by my. Ek sien dat die dokter ‘n grys ding by hom het, maar dit is beslis die minste van my bekommernisse.

Die narkotiseur druk ‘n naald in my rug en spuit vloeistowwe in. Dit is vrek seer, maar ek probeer om sterk te wees. Ek snik aaneenlopend en hulle sê heeltyd vir my om stil te sit.

Daar speel ‘n liedjie van Ed Sheeran. Dit tref my toe; die grys ding by die dokter is ‘n klein luidspreker. Ek lag, maar dit gaan weer dadelik oor na huil. Ek weet nie wat met my aangaan nie.

My bene is dood. Ek word in ‘n lêënde posisie gedraai. Ek kan nie self draai nie; ek voel so hulpeloos.

Hulle neem my na die CT-scan om die presiese kol op my been te kry waar die gewas (osteïd osteoom) sit. Ek weet hulle gaan ‘n naald indruk om oor die naald te boor en ek voel iets is aan die gebeur, maar dis gelukkig glad nie seer nie… dankie tog vir die epiduraal. Daar kom kort-kort iemand met my praat om my kalm te hou. Dit help absoluut niks.

Ek word wakker, maar wat om my aangaan weet nie. Ek sien ‘n drup aan my linkerhand en iets anders aan my regterhand. Daar is ‘n groot pyp aan my linkersy, maar ek weet nie waarvoor dit is nie.

Ek soek die klokkie om die verpleegsters te roep, maar dié is ook skoonveld. Ek wil regop sit, maar ek kry dit nie reg nie. Ek soek die masjientjie om my bed regop te verstel, maar ek kom nie daar uit nie: die pype hou my terug. Ek sien ‘n verpleegster stap, maar sy sien my nie. Ek voel lus om te huil.

Ek steek my hand op tot waar hy kan, maar sy sien dit nie.

Ek voel lus om te skree, maar ek besef ek lê in die hospitaal en daar het juis op die mure gestaan: Silent Hospitals Help Heal. Ek bly maar stil.

Uiteindelik kom die verpleegster daar aan en help my. Sy haal die groot pyp weg en sê dat ek koud gekry het. Ek onthou vaagweg iets van my tande wat geklap het, maar die narkose is nog te veel.

Na sy my reggekry het, vra ek haar of sy asseblief my ma kan bel. Sy bring haar selfoon en ek druk met my dom vingers die bekende nommer in.

My ma antwoord. Ek sê sy kan maar kom en sy sê vir my sussie dat ek wakker is. Na 30 sekondes kom my ma om die draai en ek weet… alles is oukei.

Na een en ‘n halwe jaar se pyn, 24 uur per dag, een en ‘n halwe jaar van snags wakker lê oor die onbeheerbare pyn in my regteronderbeen, ‘n flikkergram, omtrent 2000 Panado’s, ‘n pynvolle MRI-skandering, vier X-strale, baie geld en ‘n nag in Vincent Pallotti-hospitaal, is alles reg.

5 Mei 2017: die dag wat ek weer ‘n normale lewe kon begin lei. Iets wat ek jare laas gehad het.

Pyn is NIE normaal nie.

Loading


Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

1 × one =

Voorwaarts Skoolkoerant
Verified by MonsterInsights