“Groen” randjie om matrieks se donker wolkie

“Groen” randjie om matrieks se donker wolkie


2020 is ‘n vreemde jaar. ‘n Jaar vol uitdagings. Maar hierdie uitdagings keer nie vir Hoërskool Bonnievale (HSB) nie, aangesien ‘n matriekafskeid en prysuitdeling steeds in die prentjie is.

Die matrieks van 2019 se matriekafskeid-uitnodiging. Foto: Verskaf

Die jaarlikse matriekafskeid word gewoonlik in die laaste week van die derde kwartaal gehou. Dit word voorafgegaan deur ‘n modeparade wat tradisoneel deur die graad 10’s van HSB gereël word.

Die matrieks kry dan die geleentheid om hul uitrustings tydens die modeparade ten toon te stel. Na die modeparade gaan die matrieks na die amptelike matriekafskeid wat deur HSB se graad 11’s georganiseer word.

Die matriekafskeid dien as ‘n afsluiting vir die matriekklas net voordat hul rekordeksamen begin.

Die prysuitdeling word dan in die eerste week van die vierde kwartaal gehou. Tydens die prysuitdeling ontvang leerders sertifikate en trofees vir prestasies wat hulle tydens die jaar behaal het.

Die vier nuwe hoofleiers sowel as die nuwe VRL vir die volgende jaar word ook altyd aan die einde van die prysuitdeling aangekondig.

Die bogenoemde kan egter nie hierdie jaar as gevolg van KOVID-19 soos gewoonlik plaasvind nie. Om die verspreiding van KOVID-19 te voorkom, moet ‘n sosiale afstand van minstens 1,5 m te alle tye gehandhaaf word. Die dra van maskers in publieke plekke is ook verpligtend.

HSB het dit dus goedgedink om die matriekafskeid sowel as die prysuitdeling, met die leerders en personeel se gesondheid in gedagte, af te stel.

Daar gaan egter steeds afskeid van die matrieks geneem word en ‘n prysuitdeling gaan plaasvind, maar dit gaan nie soos gewoonlik verloop nie.

Dit sal, in nuwe formaat, op 23 Oktober 2020 op die netbalbaan by die skool se hoofingang gehou word. Die matrieks sal op die netbalbaan in ‘n U-formasie aantree terwyl sosiale afstand steeds gehandhaaf sal word.

Daarna gaan HSB se skoolhoof, mnr. Johan Els, ‘n kort toespraak lewer en geskenkies aan die matrieks oorhandig. Hy gaan ook die akademiese vakpryse aan die matrieks wat die beste in elke vak gevaar het, oorhandig en so steeds erkenning aan die matrieks en die prestasies wat hulle behaal het, gee.

Marette Möller, ‘n graad 12-leerder van HSB sê: “Ek is baie bly dat daar steeds vir ons iets gedoen gaan word, maar dit laat my eintlik hartseer voel. Dit herinner my net aan al die dinge waarop ons hierdie jaar uitgemis het.”

Loading


Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

14 − 13 =

Voorwaarts Skoolkoerant
Verified by MonsterInsights