Eksamenstres: 6 wenke om stres los te skop
Geen tyd, geen slaap, te veel werk en jou gedagtes is op ‘n ander plek! Dit klink soos eksamentyd…

Die matrieks van Hoërskool Bonnievale het op 30 Augustus begin met hulle rekordeksamen. Dit is ’n tyd van stres wanneer dit kom by eksamen, die een meer as die ander. Jy wens jy kon net onder die kombers wegkruip en vergeet van almal en alles, maar dan klop Meneer Eksamen aan jou deur en herinner jou aan jou toets môre.
Dit is dus belangrik dat jy goed voorbereid is vir die toetse wat nog gaan kom. Hier volg ses wenke vir hoe jy te werk kan gaan om jou geestelik en fisies voor te berei:
- Dink positief: Moenie struikelblokke in die pad sien nie, maar dink: jy kán dit doen! Hoe positiewer jy is, hoe makliker gaan dit wees om te leer en die toets te skryf.
- Bly by die basiese reëls: Leer soos jy die ander 11 jaar van jou skoolloopbaan ook geleer het. Moenie nou anders begin leer nie; dit gaan jou net nóg meer senuweeagtig maak.
- Beheer jou stres: Dit is natuurlik om te stres voor ’n toets, dit is ’n natuurlike reaksie van jou liggaam om te wys dat jy gespanne en senuweeagtig is, maar jy moet dit darem kan beheer. Te veel stres sorg weer daarvoor dat jy in die toets kan blank slaan.
- Doen oefeninge: Dit is belangrik om, voor jy begin met die toets, oefeninge te doen. Moet jou nie steur daaraan as ander klasmaats jou snaaks aankyk nie; dit is jou manier om rustig te kan bly. Die oefeninge sluit in: deur-die-neus-in en by-die-mond-uit asemhaling, om jou oë vir twee minute toe te maak en te dink aan niks en om jou nek en skouers te beweeg en te laat ontspan.
- Moenie moed opgee nie: Dit is maklik om in jou boeke te verdrink en te dink, kom ons los die eksamen, ek gaan dit in elk geval nie maak nie. Nee, dit is die verkeerde houding! Motiveer jouself om aan te hou, al is jy ook moeg. Soos die gesegde lui: “aanhouers wen“.
- Beloon jouself: Sê vir jouself: “As ek hierdie hoofstuk klaar geleer het, kan ek warm sjokolade en beskuit eet.’’ Dit help om jouself uit te daag om te leer tot ’n spesifieke punt, want dan het jy ’n doel waarna jy werk.

Ek is eerlik, vrolik en hou van uitdagings. Ek hou van oefen, aktief wees en atletiek is my passie. Ek hou daarvan om tyd saam met my vriende en familie te spandeer.