E-leer is die nuwe leer
Wat is e-leer, of m-leer soos baie dit sal noem? Dit staan onderskeidelik vir elektroniese of mobiele leer.
Nadat die kovid-19-pandemie verwoesting oor die wêreld gesaai het, moes onderwysers ‘n nuwer leermetode aanwend. E-leer word beskou as een van die gemakliker maniere van leer, waar jy jou leerwerk saam met jou kan neem via jou selfoon of ander elektroniese toestel.
Mnr. Reon Janse van Rensburg (voormalige onderwyser en nou deel van Solidariteit) sê: “Onderwysers het onbewustelik al die vierde industriële rewolusie betree.”
Volgens dr. Eugene Brink, van Afriforum, is die manier waarop e-leer in Suid-Afrika gebruik word geen uitsondering nie omdat tegnologie en digitale inligting maklik bekombaar, kompak en ewe gewild by beleidmakers en die publiek is.
Volgens die Ahaslides.com is hierdie die voordele en nadele wat e-leer vir ‘n onderwyser of leerder kan inhou.
Voordele:
- Die vermoë om op enige plek en tyd te kan leer.
- Kinders leer nuwe vaardighede aan soos selfdissipline en hoe om meer onafhanklik te wees.
- Dit kan baie voordelig wees vir jou toekoms as jy al vroeg e-leer gebruik en toepas.
- Om oor te skakel na e-leer beteken om op te hou om onnodige energie te bestee.
Nadele:
- Baie studente vind dit moeiliker om betrokke te raak. Hulle voel byvoorbeeld ongemaklik om hul gesigte op ‘n skerm te plaas waar almal hulle kan sien.
- Tegniese kwessies kan ook nog nadele inhou. Miskien was daar al ‘n stadium in mense se lewens waar tegnologie hulle teleurgestel het en toe kry die individue nuwe maniere om sonder tegnologie klaar te kom.
- E-leer maak dit vir onderwysers en leermeesters moeiliker om ‘n klas te beheer. Omdat kinders se aandag maklik afgetrek word juis omdat hulle toegelaat word om hul selfone te gebruik.
- Die onderwyser is nie self daar om ‘n leerder se werk te kontroleer soos wat hy in ‘n klaskamer sou doen nie.

Volgens techjury.net bespaar e-leer meer tyd en dit neem sowat 40-60% minder tyd as in ‘n klaskamer, omdat leerder juis in hul eie omgewing werk, waar dit meer gemaklik is. Nog ‘n rede hiervoor is omdat ‘n gewone skooldag tot sowat sewe uur duur. Solidariteit.co.za noem dat daar reeds skole in Suid-Afrika is wat hierdie nuwe leerwyse aangryp, soos Rhenish Girls’ High School in Stellenbosch.
Volgens Kananelo Makoena (Netwerk24) kan oudmodel-C-skole en privaat skole dit makliker vind om kinders aanlyn te onderig. Alhoewel dit nie die probleem makliker maak nie omdat daar leerders is wat meer aandag in sekere vakke nodig het. Leerders geniet dit meer om van die huis af te werk, waar hulle in hul eie ruimte kan wees.
Volgens dr. Eugene Brink gaan e-handboeke en digitale tektste nie verdwyn nie — inteendeel, hul gewildheid, ontwikkeling en alomteenwoordigheid verseker klaar die sukses daarvan.
Tog is daar nog in Suid-Afrika massiewe uitdagings voor e-leer suksesvol kan wees. Leerders en hul ouers het gereeld nie data om toegang tot hulpbronne te kry nie. Mnr. Stefan Prins, onderwyser by Hoërskool Bonnievale, sê dat e-leer op hierdie stadium nie suksesvol is nie. “Leerders doen eenvoudig nie die huiswerk wat vir hulle deurgegee word nie en dit lyk of daar geen kontrole vanaf die ouers se kant af is nie. En ek verneem by verskeie meer welgestelde skole in die Kaap dat hulle met dieselfde probleme sukkel en eintlik maar e-leer as ‘n gemors beskou.”

Ek is Lee-Colynn Baadjies — trotse Bonnie en trotse redaksielid.