Die gesigte agter die N.F.A.A.

Die gesigte agter die N.F.A.A.


Jaco en Anne-Marie du Plessis. Foto: Verskaf

Luané Wessels van Voorwaarts het met Jaco en Anne-Marie du Plessis ‘n onderhoud gevoer oor hul besigheid, die N.F.A.A., wat ook betrokke is by Hoërskool Bonnievale se noodhulp.

Wat is die N.F.A.A.?
Die N.F.A.A. is die National First Aid Academy. Dit is ‘n maatskappy (Edms.) Bpk. wat veiligheidsopleiding (nie sekuriteitsopleiding nie) verskaf aan besighede.

Wat behels julle besigheid en beroep?
Ons bedryf ons eie besigheid, naamlik die N.F.A.A. Hierdie onderneming het verskeie fasiliteerders wat landswyd veiligheidsopleiding onder die Beroepsveiligheidswet (Wet 85 van 1993) doen. Nie net noodhulpopleiding nie maar ook ander kursusse met kliënte soos die Universiteit van Johannesburg, Transnet en Stefanutti Stocks. Ons konsentreer meestal op ‘n kliëntebasis van volwassenes in besighede.

Hoërskool Bonnievale se noodhulp kry ook opleiding deur julle. Hoe lank duur hulle opleiding en hoe baie leerders is daar?
Ons het hierdie jaar saam met die skool ‘n besluit geneem om HSB se leerders een keer ‘n week bymekaar te kry om die modules deur te werk en baie praktiese oefening te kan gee. Ons wil elkeen leer om op hul voete te kan dink en dadelik op te tree. Daar is 63 leerders. Ek dink die hele gemeenskap kan trots wees op hierdie leerders wat hulle eie tyd insit om opgelei te word!

Hoe is julle nog betrokke by die gemeenskap? Waar gee julle oral opleiding?
Daar bestaan ‘n wesenlike verskil tussen besigheidsopleiding en die noodhelpers langs die sportveld wat gereeld blootgestel word aan beserings. Ons wil graag Hoërskool Bonnievale se kinders op ‘n hoë vlak van opleiding kry deur hulle reg deur die jaar prakties te laat oefen. Verder lei ons dikwels gemeenskapswerkers in groepe op, wat normaalweg nie kan betaal vir ‘n kursus nie. Sodoende kry hulle ‘n kans om hulself op te hef om moontlik oorweeg te kan word vir ‘n werk.

Hoe lank is julle al in hierdie beroep?
Die N.F.A.A. bestaan al vanaf 2003. So, al vyftien jaar.

Hoekom het julle hierdie beroep gekies?
Om entrepreneurs te wees is in ons bloed, maar ons dink die N.F.A.A. het óns gekies. ‘n Mens moet jou werk geniet. Daar moet tog ‘n doel wees hoekom ‘n mens in die oggend opstaan. Dit is soveel lekkerder as jou doestellings en belangstelling jou daaglikse werk word.

Wat is vir julle die lekkerste aspek van die beroep?
Om mense te bemagtig, om terugvoering te kry van kliënte wat sê hulle is tevrede en ons fasiliteerders doen goeie opleiding. Ook om werk te skep, om te sien dat Suid-Afrika nie hoef agter uit te staan wat beroepsveiligheid betref nie en dat mense opleiding ernstig begin opneem.

Hoe ontspan julle ná ‘n dag se werk?
As jy jou eie besigheid het, ontspan jy nooit nie. Daar is altyd iets wat moet gebeur, maar ons probeer om naweke weg te gaan en net batterye te herlaai sonder wi-fi en selfoonopvangs. Andersins moet ‘n braaivleisvuurtjie by die huis sy ding doen.

Wat is die belangrikste lewensbeginsel wat julle vir julle kinders leer?
“Pay it forward!” Daar is daagliks iets om voor dankbaar te wees – sien dit raak! Probeer om jouself te wees, jy het nie nodig om deel van ‘n trop te wees nie!

Loading


Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

eighteen − 1 =

Voorwaarts Skoolkoerant
Verified by MonsterInsights