Die donker sy van sosiale netwerke
As jy Google oopmaak en die woorde “COVID-19” intik, sal elkeen van ons ‘n verskillende outovoltooi ontvang. Hoekom is dit so?
Die meeste van die sosiale media platforms wat ons gebruik, is gratis. So, hoe maak groot maatskappye soos Google en Facebook geld? Wat is die produk?

JY is die produk!
Hierdie groot besighede is in die bemarkingsindustrie wat jou “aandag” aan adverteerders verkoop. Wat hulle anders as byvoorbeeld gedrukte media maak, is dat hulle waarborg dat advertensies by die uitgesoekte teikenmark gaan uitkom. Om dit te kan regkry, versamel hulle konstant ‘n magdom informasie oor hulle verbruikers.
Jeff Seibert, vorige uitvoerende hoof van Twitter en Reeks-tegnologiese ondernemer, waarsku ons in ‘n onderhoud dat alles wat jy doen streng gemonitor word. Hoe lank jy blaai, waarna jy kyk, selfs hoe lank jy na iets kyk voor jy verder blaai. Met al die data tot hulle beskikking, bou ‘n super-rekenaar ‘n model wat met groot akkuraatheid jou volgende beweging kan voorspel.
Jason Lanier, rekenaarwetenskaplike en mede-uitvinder van “virtual-reality” verduidelik: “The gradual, slight, imperceptible change in your own behavior and perception – that is the product.”
Dink net hoeveel geld maatskappye bereid sal wees om te betaal 0m 2 miljard mense se persepsie net ‘n klein bietjie te laat verander oor ‘n produk. Dit is ‘n besigheidsmodel wat gaan geld maak.

Volgens ‘n eksperiment op Facebook kon hulle bewys dat Facebook ons emosies en gevoelens op sekere maniere kan manipuleer sonder dat ons dit eers agterkom. Huidiglik word dié “kragte” net uitgeoefen om ons so lank as moontlik op ons skerms te laat fokus en meer advertensies te plaas.
Dit vat nie veel verbeeldingskrag om die implikasies daarvan te sien nie.
Die manier waarop hulle dit regkry, is deur algoritmes. In ons geval is algoritmes geprogrameer met drie doele in gedagte:
- Dit wil jou so lank as moontlik betrokke hou,
- dit wil hê jy moet so veel as moontlik mense oornooi om ook die toep te kry en
- om soveel moontlik geld te maak deur advertensies, sonder om jou af te sit.

Die meeste van ons interaksies op sosiale platforms word gefinansier deur ‘n derde party wat mense wil manipuleer om anders oor ‘n produk te dink en dit te koop.
Dit kan ook sterk polarisasie tussen mense vorm. As ek byvoorbeeld ‘n video kyk wat oor X redeneer en pro-X is, sal die algoritme vir my video’s wys wat ook oor X gaan, maar sal nie vir my noodwendig die ander sy van die saak wys nie, want ek sal dit dalk net nie wil kyk nie.
Só vorm jy ‘n baie sterk opinie oor iets, bloot omdat dit al standpunt is wat Google vir jou wys. Jou vriend langsaan se algoritme wys weer net anti-X video’s en só vorm hy/sy weer ‘n baie sterk opinie in die ander rigting en julle kan dan nie verstaan hoe die ander party nie insien wat jy sien nie.
Die ding is, hulle sien dit letterlik nie! Hulle algoritme wys net vir hulle meer en meer van die kant wat hulle kies.
Dit veroorsaak sterk polarisasie in groepe mense. In party gevalle glo mense selfs iets belagliks soos dat die aarde plat is. Maar sê nou die algoritme kry dit reg om iets soos ‘n populasie van ‘n land se politieke siening te verander? Dis gevaarlik.

Volgens ‘n studie deur drie MIT-studente versprei fopnuus tot ses keer vinniger as ware nuus. Want ja, ware nuus is verveliger. Ons almal weet tog uit ondervinding dat wolhaarstories baie lekkerder is om te vertel as die ware Jakob.
Fopnuus wat ses keer vinniger versprei, veroorsaak dat algoritmes, wat nie tussen waar en vals kan onderskei nie, hierdie valse inligting aan jou sal oordra as ware nuus, want dit lyk vir die super-rekenaar asof dit meer geld daaruit kan maak.
Dink ‘n bietjie daaraan… in hierdie wêreld is ons meer waardevol vir groot tegnologiese besighede as ons soos “dooie zombies” na ‘n skerm staar, waar ons eerder ons lewens kon gaan uitleef het. Hierdie besighede wil kyk hoeveel van jou lewe jy aan hulle kan afstaan deur na ‘n skerm te kyk.
Ons moet besef: elke dag as ons ons fone aansit, is daar ‘n baie slim program besig om soveel as moontlik ons aandag te hou. Pasop dat ek en jy nie slawe van een van hierdie maatskappye word nie.
Vir meer inligting klik hier vir Tristan Harris se Tedtalk of kyk die dokumentêre-drama The Social Dilemma op Netflix.

Ek is ‘n trotse Bonnievaler, wat hou van programering en musiek. En is natuurlik, ‘n trotse VOORWAARTS-redaksielid!
One Reply to “Die donker sy van sosiale netwerke”
Uitstekende navorsing en goeie taalgebruik, Christiaan. Ek hou baie van hierdie berig.