Bonnievale vier fees

Bonnievale vier fees


‘n Eeu gelede, in 1921, was die hoeksteen van die Mary Myrtle Rigg kerk in Bonnievale gelê. Om hierdie herdenking te vier, word ‘n fees 5 – 7 November gehou.

ECD Olimpiade te JGT. Foto: Info Bonnievale

Die fees skop af op Saterdagoggend 9:00 met ‘n ECD-olimpiade, ‘n eerste in Suid-Afrika, wat by Jakes Gerwel Tegniese Skool aangebied word.

Die mikpunt is om die band tussen kind en vaderfiguur of manlike voog te versterk. Daar is ses plaaslike skole wat deelneem.

Die opbrengs gaan vir welsynsprojekte om en in Bonnievale.

Die dag bestaan uit: Pa’s wat ‘n appel uit ‘n bak meel moet eet, vis met sy mond, ‘n hindernisbaan, kruiwastoot, ens. Toegangsfooie gaan aan die Bonnievale Projects SA-welsynprogram.

Van 18:00-22:00 word ‘n potjiekoskompetisie en Duck Derby by Outdoor Arena aangebied. Tydens die Duck Derby word 2000 plastiekeendjies op die dam gelos om te sien watter een eerste die oewer bereik. Die wenner kry R7 500.

Die inkomste uit hierdie opbrengs gaan aan BOSS Outistiese sorgsentrum en die Bonnie People Projek.

‘n Onvergeetlike opvoering word die Sondag by die Mary Mytrle Rigg kerk verwag. “Dit gaan voel asof jy in Europa na ‘n opvoering kyk met akteurs wat ‘n roerende verhaal uitbeeld,” sê Haide Muller, RSG-programaanbieder. Die inkomste uit hierdie opvoering gaan aangewend word om die mure van die kerkie te beskerm, wat besig is om te verweer.

Christopher Forrest Rigg, die stigter van Bonnievale, se jongste dogter, Mary Myrtle, is op die jong ouderdom van sewe aan breinvliesontsteking oorlede. Op haar sterfbed het sy vir haar pa gevra om ‘n klein kerkie vir haar te bou. Rigg het sy belofte aan sy dogter nagekom en hierdie klein Normandiese Styl-kerkie in herinnering aan haar gebou. Die jong meisie is begrawe in ‘n veld waar sy graag gespeel het, en deur die jare het dit die familiegraf geword. Dit is die enigste kerk ter wêreld wat op versoek van ‘n kind gebou is.

Vir meer inligting rakende die fees, kontak mnr. Theuns Coetzee by 082 417 8597 of die plaaslike toerismekantoor te stay@infobonnievale.co.za

Loading


Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

1 × five =

Voorwaarts Skoolkoerant
Verified by MonsterInsights