Tradisionele vorm van prysuitdeling moontlik prysgegee

Op die aand van Hoërskool Bonnievale se prysuitdeling wat op 11 Oktober 2018 plaasgevind het, het mnr. Johan Els (skoolhoof van HSB) ‘n groot aankondiging gemaak. Die hoërskool se prysuitdeling sal waarskynlik van nou af geskei word van graad die gr.4-7’s s’n.
Een van die hoofredes vir hierdie moontlike verandering is dat mnr. Els klagtes ontvang het oor die aand wat gewoonlik te lank raak, veral vir die junior leeders wat die aand bywoon.
Mnr. Els sê: “Daar is mense wat voel dat die fokus op die hoërskoolleerders moet wees en dat die laerskoolleerders uitgelig moet word.”
Die goeie nuus vir die graad 1-3-leerders is dat hulle heel moontlik ook deel van die laerskool byeenkoms sal wees. Mnr. Els voel dat hy in daardie geval die naam van die prysuitdeling eerder na ‘n erkenningsaand vir die laerskool moet verander.
Annabel Theron (gr.6-leerder in HSB) sê: “Ek voel dit is ‘n goeie idee om die prysuitdeling te skei, want dit raak na my sin te lank. Ek voel dat ons gr.1-7-leerders ‘n bietjie meer erkenning sal kry omdat die aand vir die laerskool net oor ons sal gaan.”
Die hoërskool se prysuitdeling sal steeds op dieselfde tyd elke jaar plaasvind as tans. Mnr. Els besin nog oor ‘n datum vir die laerskoolbyeenkoms.
Daar is ‘n groot moontlikheid dat die geleentheid in die eerste week van die eerste kwartaal sal plaasvind. Die voordeel daarvan is dat die héle jaar se werk erkenning sal kry. Die grootste nadeel is die wegbreek van die tradisie.
Dus is daar nog baie besluite om hieroor te neem en min planne is alreeds bevestig.

Ek is ‘n trotse leerder van Hoërskool Bonnievale. Tussen my familie en naaste vriende is ek op my gelukkigste. Ek is mal oor uitdagings en ek is baie lief vir my moedertaal.