Hoofleiers: reg vir aksie!

Hoofleiers: reg vir aksie!


Hoërskool Bonnievale se nuwe hoofleiers vir 2019, Jan-Hendrik Wentzel (links) en Fleur Slot (regs). Foto: Alèza van Zyl

Janke Brink van Voorwaarts het op 22 Oktober 2018 ‘n onderhoud gevoer met Fleur Slot en Jan-Hendrik Wentzel, die nuwe hoofleiers van Hoërskool Bonnievale (HSB) vir 2019.

Na watter plig as hoofseun of -meisie sien jy die meeste uit?

  • Fleur: Ek sien baie uit daarna om leiding te kan neem en ek is baie opgewonde om aktiwiteite saam met almal te kan reël. Ek wil ook graag nuwe idees gebruik om kreatiwiteit in ons skool in te bring sodat die kinders opgewonde sal wees om deel te neem aan verskeie aktiwiteite.
  • Jan-Hendrik: Ek sien baie uit na al die veranderinge wat ons in 2019 gaan maak.

Watter eienskappe moet ‘n goeie leier volgens jou hê?

  • Fleur: ‘n Goeie leier moet hardwerkend wees, want jy gaan baie werk hê om te doen. Jy moet ook baie tydsgebonde wees, want sekere take gaan op spesifieke datums afgehandel moet wees. Jy moet positief wees, want daar is baie negatiewe goed wat na jou kant toe gaan kom. Jy moet deursettingsvermoë hê omdat jy lang ure gaan moet werk en dan moet jy nie moed opgee nie. Jy moet ook georganiseerd wees, want jy moet baie administratiewe werk doen.
  • Jan-Hendrik: ‘n Goeie leier moet hardwerkend, eerlik en toegewyd wees. Hulle moet ook omgee vir hul mede-VRL-lede se behoeftes, selfvertroue hê en nie bang vir verandering wees nie.

Wie inspireer jou om ‘n goeie leier te wees en waarom?

  • Fleur: Mia Beukes, want sy is die perfekte voorbeeld van ‘n goeie hoofmeisie. Sy het ongelooflik hard gewerk in 2018 toe sy hoofmeisie was en het haar take tot die beste van haar vermoëns vervul.
  • Jan-Hendrik: My rolmodel is mnr. Els. Hy is baie hardwerkend en altyd bereid om na iemand se opinie te luister. Ten spyte daarvan dat hy baie besig is, is hy altyd netjies en vriendelik.

Wat beteken die woord “sukses” vir jou?

  • Fleur: Dis wanneer jy die doelwitte bereik waarvoor jy gemik het en met trots kan terugkyk na hoe goed jy dit gedoen het.
  • Jan-Hendrik: Sukses beteken vir my om alle take na die beste van jou vermoë te voltooi.

Het jy enige spesiale planne vir jou termyn in 2019?

  • Fleur: Ek en Jan-Hendrik het al baie planne vir 2019, maar die grootste plan is om nuwe idees en inspirasie by die skool in te bring. Ons wil dinge ‘n bietjie verander of anders doen om ‘n bietjie gees in ons skool in te bring. Ons wil nie dieselfde, konstante patroon in ons skool hê nie, sodat leerders opgewonde sal wees om aan aktiwiteite deel te neem. Ons wil definitief die deelname in die skool verbeter.
  • Jan-hendrik: Ja, ons VRL beplan ‘n paar nuwe dinge vir 2019 wat julle al in die begin van volgende jaar sal sien.

Op watter gebiede, dink jy, kan die skool nog verbeter?

  • Fleur: ‘n Skool het maar altyd klein goedjies wat verbeter kan word, maar ek dink die kinders se deelname aan aktiwiteite moet verbeter. Dis definitief iets waarop ons moet fokus.
  • Jan-Hendrik: Ek dink die skool kan meer fokus op die interaksie tussen verskillende klasse van verskillende grade om die leerders trots en betrokke te kry.

Wat doen jy in jou vrye tyd?

  • Fleur: Ek hou daarvan om atletiek en ander sportsoorte saam met my vriende en vriendinne te doen. Ek hou daarvan om aktief te wees omdat ek nie kan stil sit nie.
  • Jan-Hendrik: Ek probeer om so ver as moontlik van my selfoon af weg te kom en dan hou ek ook van TV kyk en nuwe tegnologie en modes google.

Waarom wou jy hoofseun of -meisie word?

  • Fleur: Ek hou van leiding neem en die amp van hoofmeisie het net baie aanloklik vir my geklink en gelyk. Ek was lus vir nuwe uitdagings. Ek het geweet dat dit baie harde werk gaan wees, maar ek staan nie terug vir groot uitdagings nie. Ek wil ook graag ‘n klomp nuwe aktiwiteite vir die leerders reël.
  • Jan-Hendrik: Ek voel ek het ‘n stem om vir baie ander te praat wat te skaam is. Ek hou ook van organiseer en leiding neem.

Loading


Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

eleven − 8 =

Voorwaarts Skoolkoerant
Verified by MonsterInsights