Bonnievale-biblioteek vier Afrika-dag

Op Vrydag 25 Mei is Afrika-dag kontinentaal gevier. Hierdie dag is gevier om ons dinamiese geleenthede en prestasies te herdenk. Afrika het ‘n ryk en diverse erfenis en dit word jaarliks gevier.
Die Bonnievale Happy Valley Biblioteek het Afrika-dag gevier deur die biblioteek met ‘n Afrika-tema te omskep. Die bibliotekaresses het Afrika-drag aangehad om die gevoel meer werklik te maak. Hulle het ook sagte Afrika-musiek in die agtergrond gespeel.
Die atmosfeer was sonder twyfel Afrika-agtig. As jy in die biblioteek ingestap het, het jy ‘n gevoel van trots ervaar. Plakkate is aangebring waarop beroemde aanhalings van legendariese Afrika-leiers was.
As jy in die biblioteek gekom het, het die bibliotekaresse jou gegroet in Afrika-tale. Me. Lisbeth Tetana, een van die bibliotekaresse, vertel met trots: “Ek is ‘n Afrika-vrou en ek voel hierdie dag moet herdenk word om ons waardering van ons pragtige kontinent te vier.”
Die bibliotekaresse het ook vir leerders van Bonnievale Primêr in Afrika-tale voorgelees.
Daar was op ‘n rak verskillende boeke van die verskillende lande van Afrika.
“Die rede hoekom ons dit gedoen het, was om mense en kinders te inspireer om ‘n verenigde gevoel van Afrika-trots te hê,” was die woorde van me. Marva Slingers, die ander bibliotekaresse.
“Die groot doel agter Afrika-dag is om die gemeenskap van Bonnievale meer in te lig oor ons pragtige kontinent,” voeg sy by.

Ek is ‘n hardwerkende en toegewyde jong dame wat glo waar daar ‘n wil is, is daar altyd ‘n weg. Om te skryf is een van my stokperdjies, want ek hou daarvan om my verbeelding te gebruik. Ek is ‘n avontuurlustige mens en sien altyd kans vir ‘n uitdaging!