Huisgenoot Mej. Tiener 2024: Onverwagse Reis na Selfontdekking
Die dag toe ek vir die Mejuffrou Tiener 2024 Huisgenoot-kompetisie ingeskryf het, het ek geen verwagtinge gehad nie.
Die kompetisie het duisende inskrywings van regoor Suid-Afrika gelok, en die kans om gekies te word, het klein gelyk. Steeds het ek besluit om ‘n kans te waag; nie net om deel te neem nie, maar om myself uit te daag aan ‘n geleentheid wat my sal help groei.
Huisgenoot het destyds elke jaar ‘n Mejuffrou Tiener gekies, maar ná ‘n paar jaar se stilte, het hulle weer begin soek na ‘n jong dame om hierdie groot titel te dra. Ek het ‘n inskrywingsvideo op TikTok gedeel, waarin ek vertel het waarom ek ingeskryf het en ook ‘n bietjie agtergrond oor myself gedeel het. Ek was nie altyd die sterk, selfversekerde persoon wat ek vandag is nie.
Op laerskool was ek een van die minder populêre kinders en was gereeld die slagoffer van boelies. Kinders kan wreed wees, en ek het dikwels gevoel asof ek nie goed genoeg was nie.
As daardie jong Mareli maar net geweet het hoe sterk sy eendag sou wees.
Vandag kyk ek nie weer terug na die verlede met seer nie. Natuurlik is daar sekere woorde en aksies wat ek nooit sal vergeet nie, maar dit het nie meer die mag om my te affekteer nie.
Deur die jare het ek geleer hoe waardevol my waardes is, om myself lief te hê en om positief te praat oor my voorkoms en menswees.
Tot my verbasing is ek kort daarna aangekondig as deel van die Top 30 in die kompetisie.
Die vreugde het voortgeduur toe ek ‘n oproep van Huisgenoot ontvang het, waar ek ‘n paar vrae moes beantwoord, en uiteindelik my plek in die top tien verseker het.
Al het ek nie die titel gewen nie, het ek baie waardevolle lesse geleer en besef dat ek soveel sterker en meer selfversekerd is as wat ek ooit gedink het.


Wie weet, hulle kies mos volgende jaar die volgende Mejuffrou Tiener vir 2025! Ek is opreg dankbaar vir hierdie groot geleentheid en vir die ondersteuning van my vriende en familie.
My boodskap aan elke jongman en -dame is eenvoudig: Vergelyk jouself nie met ander nie, maar leer om jou eie uniekheid te waardeer en in jouself te glo.

Ek is hardwerkend en doelgerig met ‘n liefde en passie vir fotografie.
One Reply to “Huisgenoot Mej. Tiener 2024: Onverwagse Reis na Selfontdekking”
Mareli Jordaan het n ongelooflike mooi persoonlikheid en is ongelooflik baie mooi. Sy is baie vriendelik en verdien on te wen.