BOSS maak Bonnies bewus

BOSS maak Bonnies bewus


BOSS (Bonnievale Outisme Sorgsentrum) het 23 tot 25 Mei bewusmaking van outisme onder die Bonnies gekweek. Die BOSS-personeel en -inwoners het as ‘n groep die leerders van Hoërskool Bonnievale (HSB) in die skoolsaal besoek en het Bonnies die kans gebied om interessante feite oor die BOSS-inwoners te leer.

Die inwoners van BOSS by HSB op die dag van hul besoek.
Die inwoners van BOSS tydens hul besoek aan HSB. Foto: Heinrich Wentzel

Daar word gereeld aktiwiteite met die inwoners van BOSS in die gemeenskap gedoen, want dit is vir hul personeel belangrik om die inwoners by die gemeenskap te betrek. “Daar is mos maar altyd mense wat vir ons outistiese inwoners staar of vreemd aankyk,” verduidelik mnr. Bradley Booysen, ‘n gemeeskaps- en jeugwerker wat by BOSS betrokke is. Dus was die hoofrede vir die besoek aan HSB om leerders te laat verstaan wat outisme is en wat daaglikse uitdagings is wat outistiese persone in die oë staar.

“Dit was vir my interessant om te leer hoe anders hulle dinge sien wat nie-outistiese mense nie sommer sou raaksien nie. Dan ook hoe hulle van mekaar verskil. Die maniere hoe hulle basiese goed aanleer, is regtig interessant,” vertel Ayran Arendorff (gr. 12).

BOSS se personeel het HSB-leerders ingelig oor die intervensies wat hulle in die BOSS-huis gebruik om met die outistiese inwoners te kommunikeer. Dit was ook vir hulle belangrik om leerders te wys waartoe die outistiese persone in staat is en wat hulle wel goed kan doen.

Mnr. Booysen verduidelik dat die hoofkomponente waarmee outistiese persone sukkel die volgende insluit: taal, kommunikasie, sosiale interaksies, buigsaamheid, denke, gedrag en sensoriese persepsie.

“Tog leer jy elke dag iets by hulle. Ek het al ‘n paar keer nie lekker gevoel nie dan kom sê Andries (inwoner by BOSS) vir my, ‘Bradley you are a man with a plan,’ selfs al weet hy nie eers ek gaan deur iets nie. Of Thiaan (ook ‘n inwoner by BOSS) sal uit die bloute vir my ‘n drukkie kom gee. Hulle is so spesiaal en ek voel dit is óns verantwoordelikheid om hulle stories met die wêreld te deel.”

Besoek BOSS se Facebook-blad hier en hul Instagram-profiel hier.

Loading


2 Replies to “BOSS maak Bonnies bewus”

  1. MIDDAG
    EK HET KYKNET GEKYK EN WIL KONTAK MET JULLE MAAK,EK IS NIE N VOORSTANDER VAN FACEBOOK NIE . EPOS MY ASB

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

eleven − six =

Voorwaarts Skoolkoerant
Verified by MonsterInsights