Vryburgers hou Tamaai Braai

Vryburgers hou Tamaai Braai


Die Bonnievale Vryburgers en bejaardes van Herfsvreugde kuier om die vuur. Foto: verskaf

Op Saterdag 14 April 2018 het die Bonnievale Vryburgers, en al die ander Vryburgers regoor die land, vir ouetehuise en soortgelyke instansies gebraai.  

Braaivleis by die Herfsvreugde Ouetehuis is so skaars soos hoendertande, want daar word net twee keer ‘n jaar vir hulle gebraai.

Die Tamaai Braai is een van daardie kere en word al twee jaar gehou.

Dit is gewoonlik op ‘n Sondag gehou, maar vanjaar was dit op ‘n Saterdag.  Daar word gewoonlik gebraai tydens die Kerkdiens, maar die braaiers wou saam met die bejaardes kuier en stories vertel.

Daar het altesaam 16 van die 21 Vryburger-korpse regoor Suid-Afrika gebraai.  Daar is 34 braaidromme en ingeboude braaie gebruik. ‘n Half ton tjops, ‘n kwart ton wors en 830 stukke hoendervleis is gebraai.

Die bykosse was botterskorsies en beet met ‘n braaibroodjie. Almal het ook ‘n sjokolade gekry met ‘n kaartjie as ‘n dankie-sê-geskenk.

Die Gauteng en Noordelike Provinsie het meestal pap en sous bedien saam met die vleis.  Daar is ongeveer 550 liter drinkgoed, insluitende sap, koffie, tee en wyn, bedien.

1.5 ton hout en houtskool en ongeveer 150 braaitange is gebruik.

Sommige Vryburger-korpse het gaskunstenaars gereël. Bonnievale s’n het agtergrondmusiek gespeel.

Vier van Bonnievale se Vryburgers en hulle vrouens en kinders was verantwoordelik vir die braai.  Hulle is mnre. Hennie de Wet, Vaughn Thomas, Jannie van der Merwe en Inus van Staden.

“Dit was ‘n groot voorreg om vir die mense te kan braai en ook saam met hulle te kon kuier en stories te deel,” was die woorde van mnr. Inus van Staden.

Dit gaan nou ‘n jaarlikse instelling wees en volgende jaar gaan daar vir nog instansies gebraai word.

Loading


Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

17 + 11 =

Voorwaarts Skoolkoerant
Verified by MonsterInsights