Tyd om jou eiendom te eien?
Ons bevind onsself tans in baie uitdagende omstandighede met die uitbreek van Kovid-19 regoor die wêreld, maar die rekordlae rentekoerse wat daarmee gepaard gaan, het weer geleenthede geskep wat niemand regtig in die plaaslike Bonnievale-eiendomsmark voorsien het nie.
Volgens mnr. Petrie Rademeyer, eiendomsagent by Seeff in Bonnievale, het “Bonnievale die afgelope 18 maande sy beste resultate gelewer met betrekking tot die koop en verkoop van eiendomme wat registreer is in die aktekantoor.”

Volgens mnr. Rademeyer is die rede hiervoor dat sekere kliënte nie gekwalifiseer het vir finansiële bystand met hul verbande nie, maar nou, met Suid-Afrika se rekordlae rentekoers, kan meer mense vir lenings kwalifiseer.
Op enige gegewe oomblik is daar ongeveer 20 tot 25 eiendomme in Bonnievale se mark, wat verdeel kan word tussen residensiële, kommersiële en landbou-eiendomme/-erwe.
Residensiële eiendomme is gewoonlik in woongebiede, wat huise vir woondoeleindes insluit.
Kommersiële erwe is besigheidspersele wat kommersieel gesoneer is. Hierdie eiendomme kan in woongebiede ook wees.
Landbou-erwe sluit in oop gronde, plase en kleinhoewes wat spesifiek vir landboudoeleindes gebruik word.
Die gemiddelde wagperiode vandat ‘n huis op die mark kom tot wanneer dit verkoop word in Bonnievale wissel so van ses tot agt maande, maar met sekere uitsonderings kan dit slegs ses tot agt weke duur.
Mnr. Rademeyer sê: “Dit word als bepaal deur die vraag en aanbod, jou prys en ligging, asook jou kliënt se finansiële stand en of dit kontant gekoop word en of daar ‘n verband is wat deur ‘n bank goedgekeur moet word. Die aansoekprosesse wat daarmee gepaard gaan vat maar tyd.”

Volgens mnr. Rademeyer het Bonnievale se eiendomsmark ‘n stabiele groei van 6% per jaar, wat vinniger as die land se inflasiekoers van 3.5% tot 4% is. Dus is daar ‘n positiewe groei in die eiendomsmark van Bonnievale en is dit nou ‘n goeie tyd om in Bonnievale te belê.
Algemene raad aan diegene wat die eiendomsmark wil betree, is dat kliënte hul finansiële vermoë baie goed moet ken en nie moet oorskat nie. Voornemende kopers moet veral seker maak dat hulle al die kostes kan dek wat verband hou met die koop van ‘n eiendom. Kopers moenie hulself onder onnodige finansiële druk plaas nie.
Indien u meer inligting wil bekom oor Bonnievale se eindomsmark, het ons dorp twee plaaslike eiendomsagentskappe waarby die publiek vir raad kan aanklop: Bonnievale Seeff en Chas Everitt.

Ek is ‘n trotse Bonnievaler, wat hou van programering en musiek. En is natuurlik, ‘n trotse VOORWAARTS-redaksielid!
One Reply to “Tyd om jou eiendom te eien?”
Deeglike berig! Jou moeite kom duidelik na vore.