T Junction – ‘n plek vir meer as net tee

‘n Vrolike atmosfeer, heerlike kos, rustige agtergrondmusiek, goeie dienslewering en vriendelike personeel. Hierdie is alles belangrike bestanddele wat deel vorm van die wenresep vir ‘n goeie koffiewinkel. T Junction het definitief hierdie wenresep bemeester.
T Junction is die nuutste koffiewinkel in Bonnievale. Dis in die Hoofstraat van Bonnievale geleë, so jy kan dit nie eintlik miskyk nie.
T Junction het ‘n verskeidenheid geregte waarvan jy kan kies, onder andere hamburgers, hoenderburgers, ‘n hoenderslaai, panini’s, geroosterde broodjies en hoenderstukke met skyfies by. Hulle is seker ook een van die min koffiewinkels wat ek al besoek het, waar die porsies nét die regte grootte is om jou versadig te maak.
As jy dors raak, kan jy gerus hul heerlike melkskommels, tuisgemaakte ystee, vrugtesap, koffie, tee of selfs net water geniet.
En as jy nog plek het vir nagereg, is die heerlike koeke wat vanuit die glasvenstertjie vir jou lê en loer, ‘n móét.
Selfs al het jy nie tyd om iets te sit en eet nie, kan jy ‘n peuselhappie, byvoorbeeld fudge, neute en sjokoladeblokkies of ‘n geskenkie vir iemand, by die uitstalarea binne-in T Junction koop.
As jy dalk sukkel om iets te kry waarvoor jy soek of ontevrede is met die kos, wat ek twyfel of dit sal gebeur, kan jy net die vriendelike personeel vir hulp vra. Hulle sal jou met groot glimlagte op hul gesigte help.
Die trotse eienaars van T Junction is me. Lee en mnr. Joppie du Preez.
T Junction is Maandae tot Saterdae vanaf 09:00 tot 16:00 oop. Dit is Sondae net oop vir besprekings of vir spesiale geleenthede. T Junction is ook ideaal vir funksies en partytjies te RiverGold wat net agter T Junction geleë is. Rivergold bestaan uit ‘n klein onthaalarea met ‘n swembad en braaiarea.
Ek sal jou definitief aanraai om T Junction te gaan besoek. Dit was definitief vir my die moeite werd. Dis selfs nog lekkerder saam met vriende.
So, gaan sit heerlik agteroor in T Junction en laat jouself toe om, net vir ‘n oomblik, te vergeet van realiteit terwyl jy smul aan heerlike kos.
![]()

Ek is ‘n avontuurlustige persoon wat altyd probeer om die goeie in alles raak te sien. Ek geniet dit om aan sport deel te neem, onder andere netbal, tennis en atletiek. Ek wil ook graag eendag die wêreld gaan verken deur ander lande te besoek, aangesien ek dit ook baie geniet om van verskillende kulture te leer. En my gunstelingding is definitief om saam met my gesin rondom ‘n vuurtjie te sit en kuier.
One Reply to “T Junction – ‘n plek vir meer as net tee”
Ek wag steeds vir my uitnodiging om saam te kom… 😉