Slim vang sy baas
Ons almal kom op ‘n stadium waar ons vir ander wil wys dat ons beter as hulle is. Ek weet ék het. Net voor ek in die hospitaal beland het.

Dit was ‘n normale laerskooldag, maar sou nie so normaal bly nie. Ek en my vriende het in die laerskool se beste en enigste parkie gaan speel. Ons gunsteling was die swaaie. Ons het eers geëet en toe gespeel.
Een van my vriende het gesê: “Kom ons kyk wie die hoogste geswaai kan word en dan uitspring.” Natuurlik het ons nie gehuiwer nie en ons het dadelik begin.
Ek is deur vier maats met al hulle krag gestoot. Waaragtig, ek is so hoog gestoot dat ek die bokant van ons klas se dak kon sien — en die mooi uitsig bo-oor die dag. Maar gravitasie doen toe sy ding en bring my met ‘n spoed af grond toe. Daar lê ek, geknoop in balvorm, waarna bystanders my moes ontkoek en met ‘n mengelmoes emosies na die personeelkamer dra.
My ouers jaag met my na die naaste Mediclinic in Worcester. Die operasies het plaasgevind. Een pols was heel af en die ander een gekraak.
Met pyn loop ek vir ses weke lank met gips aan beide arms. Ek was egter ook ‘n bietjie bly, want almal kon op my gips ‘n boodskap skryf.

Ek was vir ‘n hele ruk afgeboek en ek het my vraestelle mondelings afgelê. Ek het meestal rekenaarspeletjies op die rekenaar gespeel met my, uhm… tone.
Ek het op die harde manier geleer: vir elke aksie is daar ‘n reaksie. Moet nooit jou vriende probeer beïndruk as jy weet daar gaan slegte gevolge wees nie. Eerder bang Jan as dooie Jan!

Ek is baie lief vir diere en hou daarvan om nuwe goed aan te leer.
2 Replies to “Slim vang sy baas”
Jy het my met jou beskrywende woorde deel gemaak van hierdie moeilikheid. Baie mooi woord-gebruik.
Goeie inleiding en gebruik van humor, Abri. ‘n Perfekte rubriek.