Sleg of goed: stres moet groet
Skerp pyne skiet deur my liggaam. My hande sweet. Ek snak na asem soos ʼn suurstofdief. My hart boks met my borskas. Tyd om die duisternis te betree…
Nee, ek is nie smoorverlief nie, ek stres!
Net so ‘n paar dae gelede sit ek in die Langeberg Munisipaliteit-kantore en dink. Wat op aarde maak ek hier? O ja, ek moet my leerderslisensietoets aflê.
Gedagtes maal in my kop. Jy gaan dop! Jy is nie volleerd nie! Of dalk is dit mnr. Wiskunde wat my herinner aan môre se toets. Of miskien die Wiskunde-olimpiade wat daardie middag gewag het. Miskien het ek gedink aan die veeleisende Rekeningkunde-toets van die vorige dag.
Ek het egter besef wie is die groot euwel wat vlinders in my maag veroorsaak.
Stres. Die vyfletter woord wat al menige mense laat knak het. Die oorsaak van sweterige handpalms en harte wat abnormaal klop.
Die groot vraag is egter: hoekom is dit nodig om te stres? Ek het elkeen van my toetse geslaag (sommige dalk nie so goed nie). Ek ly nie nou aan enige dodelike siektetoestande as gevolg van stres nie. Ek is steeds dieselfde mens.
Die probleem is eintlik nie die stres self nie, maar die redes waarom ons stres. Daar ís stresvolle uitdagings in die lewe, maar ons is so geneig om oor onbenullighede te stres. Ja, ons as leerders kan stres oor toetse, maar soos iemand na aan my eendag gesê het: “Die enigste rede waarom jy stres, is omdat jy weet jy kon eintlik beter voorberei het.”
Stres is iets wat ons terughou in die lewe. Ons raak verlore in ons eie wêreld waar stres die enigste ding op ons agenda is. Ons word afgeskrik deur aktiwiteite net omdat ons bang is vir die stres wat die gepaardgaande uitdagings dálk sal bring. Aktiwiteite wat ons eintlik weet ons kan doen.
Dit is tyd dat ons die lewe se uitdagings aanpak, sonder om ons heeltyd te bekommer oor hoe moeilik dit dalk is. Die bekende skrywer, Fred Devito, beskryf dit goed: “If it doesn’t challenge you, it won’t change you.”

Ek is in matriek en hou van die kleur turkoois. Lewenswetenskappe is my kos.