Skaakkliniek: skaak vat vlam

Skaakkliniek: skaak vat vlam


Dieter Hattingh en Jean-Jacque du Preez dink hard by die skaakkliniek wat op 13 April gehou is. In die agtergrond is mnr. Andries Treurnicht, aanbieder van die kliniek, besig om tegnieke via die dataprojektor te verduidelik. Foto: Adele de Wit

Op Vrydag 13 April 2018 het Hoërskool Bonnievale (HSB) se eerste skaakkliniek, geborg deur Bonnievale Wines, in die mediasentrum plaasgevind.

Dit is aangebied deur mnr. Andries Treurnicht van Robertson STRATEGEMA-Skaakklub. Mnr. Treurnicht het onder andere al in 2002 ‘n silwermedalje verower as afrigter van die Oos-Kaap Skaakspan.

Mnr. Treurnicht meen: “Elke kind moet skaak speel. Dit sal hulle vermoë verbeter en sal maak dat hulle probleme makliker kan oplos.”

Die skaakkliniekmiddag is gereël deur juf. Jacqui Barnardt, skaakorganiseerder van HSB. Daar was altesaam 28 leerders by die kliniek.

Daar is in die verlede al pogings aangewend om iets soortgelyks aan te bied, maar dit was nie baie suksesvol nie. Dit is ook die eerste keer dat die laer- en hoërskool saam by so iets betrek word.

“Dit was baie lekker en ek het baie geleer. Ek sal graag wil hê dat dit weer aangebied word, want daar was ‘n paar goed waarvoor daar nie tyd was nie,” meen Jean-Jacque du Preez (gr.9).

Skaak is ‘n redelike nuwe sport by HSB wat besig is om vinnig vlam te vat. Daar was altyd slegs interne kompetisies gehou, maar deesdae kompeteer HSB teen ander skole.

Loading


Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

16 − 13 =

Voorwaarts Skoolkoerant
Verified by MonsterInsights