Rising Eagle: Geduld Veldsman se lewenswandel
Geduld Veldsman is in die Paarl gebore en het later aan Weltevrede Senior Sekondêre skool gematrikuleer. Hy het in 2006 by Hugenote Kollege gaan studeer, waar hy sy graad in Gemeenskapsontwikkeling ontvang het. Lee-Colynn Baadjies van Voorwaarts het met hom gesels oor sy nuutste boek, Rising Eagle.

Rising Eagle gee insig aan die leser van hoe dit is om met niks in die lewe te begin en later uit te styg bo moeilike omstandighede.
Wat is u huidige beroep?
Ek is ‘n gemeenskapsontwikkelingspraktisyn, wat verantwoordelik is vir baie programme binne die Drakenstein-area, veral onder die jeug en ook die hawelose mense wat op straat woon. Ek gee ook opleiding by verskillende kolleges in die Wes-Kaap en ek skryf graag modules vir verskillende kolleges.
Hoekom het u juis die titel vir dié boek gekies?
Die titel van die boek praat met my as mens en waarvandaan ek kom, dat ek bo my omstandighede kon uitstyg soos ‘n arend. Kyk, arende vlieg nie laag nie, maar baie hoog en bereik die hoogste bome.
Nou, my verhaal is van ‘n kind wat uit ‘n vullisdrom moes eet en by mense kos vra tot waar ek vandag is, in die staatsdiens en ek dien nou baie gemeenskappe. So, my titel is baie eie aan myself “Rising Eagle”.
Waaroor handel die boek?
Soos genoem, handel die boek oor my eie persoonlike lewe waar ek vanaf niks iets bekom het in die lewe. Die boek gee ‘n diepte om my te verstaan en ook selfs vir julle, want as jy eers die boek begin lees, sal jy vinnig agterkom dat die dinge wat jy lees van die goed is wat in jou lewe gebeur het of wat jy al ervaar het.
Wat was u inspirasie om die boek te skryf?
Die boek is geskryf om mense, veral jongmense, se lewens te verander en om ‘n verskil in hulle lewe te maak.
Wat is die hoofdoel van die boek?
Die hoofdoel van die boek is om vir ‘n kind te sê wat wil moed opgee in die lewe dat jy dit kan maak. Jy is gebore om te wen en gebore om ‘n verskil te maak in die lewe.
Om lewens te verander, om jongmense sover te kry om hul drome te volg en om dwelmvrye gemeenskappe te kan hê waar dwelms nie baas is nie.
En dat kinders uitstyg bo hul omstandighede al gaan dit hoe swaar.
Dink u die boek het sover ‘n verandering kom maak?
Wow, ja, ek kry elke dag boodskappe uit verskillende plekke in die land waar mense getuig dat dit wat hulle gelees het hul lewens soveel beter maak.
Ek kry ook tans baie besprekings van skole en ander plekke waar hulle my verhaal wil hoor. Daar is so baie wat gebeur in mense se lewens dat ek elke dag ‘n traan stort vir die impak wat die boek in mense se lewens maak.
Het u enige toekomsplanne om nog boeke te publiseer?
Ja, ons is tans besig met die tweede boek, maar hierdie een hou my besig, want daar is baie goed wat agter die skerms gebeur met die huidige boek, maar die tweede boek is al aan die rol.
Ek fokus nou meer op die impak van gemeenskapsontwikkeling binne die samelewing.
Het u ‘n motiveringsboodskap vir die lesers?
Ek hou van dinge eenvoudig hou, so wenners is nie bang om foute te maak nie. En wenners doen elke dag wat gedoen moet word.
Jy is ‘n wenner.


Ek is Lee-Colynn Baadjies — trotse Bonnie en trotse redaksielid.