Poort-wenopstel: Wie is Kobra?
Die volgende opstel is gekeur om in die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se jaarlikse Poort-bundel vir 2022 gepubliseer te word.
Wie is Kobra?
deur Carli Erasmus (gr. 11)
Dis laatmiddag en amper skemer se kant. Ek sit op my balkon vir die eerste keer in vier maande en blaas die stof van my storieboek af. Ek het al die draad van die storie verloor. Die afgelope paar maande was dit chaoties by die hoofkwartier. Nuwe sake, ou onopgeloste sake, dag-tot-dag sake. Maar Kobra het weer leidrade begin los. Dis al vier maande nadat die laaste slagoffer gevind is en net absolute stilte van Kobra…
Kobra se spoor van grusame moorde los my met ‘n doolhof van leidrade wat geen verband hou nie. Daar is geen patroon wat kan help om ‘n akkurate profiel saam te stel of ‘n werkbare modus operandi om hom uit te vang. Algemene deler is dat al die slagoffers vrouens is en maatskaplike werkers is. Om die moordenaar te vang, moet ek eers vasstel…WIE IS KOBRA?
Daar was tot dusver geen sis uit Kobra nie. Dit is baie onwaarskynlik dat hy uit die land gevlug het of selfs gaan laag lê het. Hy is egter te lief vir die sensasie en vrees wat hy saai. Hy gaan nie hiberneer na elke moord nie, maar dadelik sy volgende prooi identifiseer en begin jag.
Eie aan sy aard seil hy geruisloos deur die gras en slaan sy kake toe op onskuldige slagoffers sonder om homself te ontbloot. Die moorde is berekend, die lyke is onherkenbaar geskend en daar is geen teken van die moordwapen nie. Vir ‘n reeksmoordenaar wat alleen werk, is hy besonders lief vir die media-blootstelling en sy kriptiese raaisels wat anoniem aan my gestuur word na Die Burger se nuuslyn. Altyd vir die aandag van Speurder Katrien Vermeulen. Dié raaisels word altyd die volgende dag opgevolg deur ‘n lyk.
Soos my gedagtes dwaal, sien ek ‘n man met ‘n groot tas by die bushalte staan. Hy draai stadig om en kyk reguit na my op die balkon. Dan, lig hy sy hand in ‘n stadige wuif en die Kobra-tatoeeërmerk op sy voorarm verskyn vir ‘n flietende oomblik. Skielik maak als sin. Ek besef dadelik wie dit is. Tog… kan dit hy wees? Gerhard Kriel van ons dae in die kinderhuis. Hierdie keer is die leidraad deel van die volgende raaisel…
Dit is 7 maande sedert ek hom by die bushalte in Cradock gesien het. Sedertdien het ek nog nie ‘n enkele nag se slaap gehad nie. Die soektog om vir Gerhard Kriel op te spoor gaan stadig. Ons het sedert die laaste keer wat ek hom gesien het geen nuwe leidrade ontdek nie. Sy spore is toegewaai.
In Cradock se weeshuis, in Cradock waar ek verlate was deur my jong 14 –jarige ma afgegee is, is ek deur die ou boeretantes van die dorp grootgemaak. Ek het nooit ‘n wrok teen my ma gekoester omdat sy my verlaat het nie, maar steeds het ek na haar gehunker.
Ek het so eensaam geraak in die kinderhuis. Tot op daardie dag wat daar ‘n lang, sjarmante seun die eetsaal binnestap. Hy het ‘n teenwoordigheid gehad. My vriendin, Trudie het gefluister : “Dit is Gerhard kriel wat daar loop. Die nuwe ou.” Met selfvertroue het hy verby die kinders geloop en met ‘n skalkse glimglag in my rigting gekyk. Ek het skielik sy teenwoordigeheid wat agter my staan gevoel en toe vra hy: “Gee jy om as ek langs jou sit?” Ek kon voel hoe die jaloerse gloed van al die meisies in die kamer na my staar. Ek aangegaan met eet, maar hy het nogtans langs my gaan sit. Dit was ons eerste ontmoeting…
Met sy aantreklike voorkoms en enigmatiese persoonlikheid het hy almal beïndruk, maar sy ander kant was dat hy permanent besig was met kattekwaad. Ek het hom altyd beskerm en was nooit fluitjieblaser nie. Hy het my nodig gehad en ek vir hom. Is dit nie wat vriende maar altyd doen nie? Sy oortuigende en sjarmante manier was nog altyd my swakheid. Ek sou dit nooit aan hom erken nie, sy ego sal dit nooit kon hanteer nie. Dit sou net NOG meer opgeblaas word.
Kobra, soos die publiek hom ken as ‘n gesoekte vlugteling . Ek ken hom as ‘n jong seun uit my verlede, Gerhard Kriel, my kleintyd vriend. Ek is nogsteeds onseker of die nuus waar is, het hy al daardie vrouens vermoor…
Hoekom is hy daardie dag op die laaste moordtoneel gesien…wat maak hy in Cradock na 5 jaar van stilte???
Dalk het Gerhard Kriel sy kleintyd-vriendin nou nodiger as ooit…
Ek is.