Noodhulpspan gaan Groen
Op 21 Augustus 2024 het Hoërskool Bonnievale se noodhulpspan hande bymekaargesit om plantjies voor HSB se heining by die hoërskool te plant.
Die projek is deur mev. Natasja Wentzel en Abri Botes (gr. 11) gereël. Sy het die toerusting en plantjies vir die projek verskaf.
HSB se noodhulp is bekend vir hul diens waar hulle hul hande op die sportveld moet vuil maak om beseerde spelers by te staan. Hulle werk gewoonlik volgens ‘n rooster op sportdae wat deur hul voorsitter, Runiël Stallenberg (gr. 12), opgestel word.
Die plantjie-projek was ‘n spontane geleentheid vir hulle om span te bou en die skool so bietjie op te knap.
Alhoewel die noodhulp weekliks hul handskoene moet vuil maak op sportdae, kon hulle hierdie keer hande vuil maak sonder handskoene.
Al wat hulle gehad het om mee te werk was rou grond, ‘n graaf, gieter en 90 plantjies.

Die skoolhoof van HSB, mnr. Stefan Prins, beskryf die projek as ‘n geleentheid vir die noodhulspan om as een span te werk aangesien hulle op sportdae in verskeie groepies verdeel is vir verskillende skofte. Meneer Prins het ook gehelp gate te grawe vir die plantjies.
“Die Noodhulpspan wag nie vir iets om te gebeur nie, hulle spring net in. Hierdie plantjies gaan oor drie jaar in ‘n pragtige lushof groei voor HSB se skoolgronde. Ek is bly om die noodhulpspan deel te maak van die “Lotto maak ‘n dorp mooi”-vrywilligers”, sê mev. Wentzel.

Mev. Wentzel deel die volgende woorde van bemoediging aan elke leerder en die noodhulpspan: “Liewe jongmens, plant elke dag jou plantjie of saadjie van positiwiteit, ywer, omgee en respek. Maak ‘n verskil, al word dit oor ‘n paar jaar eers waardeer. Jou impak is GROOT.”
Vir meer foto’s, druk hier.

Ek is ‘n baie vriendelike, hardwerkende en ‘n passievolle HSB-leerder, al sê my vriende dat ek partykeer hardkoppig is.