Natuur haal weer asem tydens grendeltyd
Tydens die strenger weergawe van die grendeltyd waarin ons onsself vroeër die jaar bevind het, was dit moeilik om by die beperkings te hou en nie vinnig in die motor te spring en Koo toe te ry om te gaan sneeu kyk nie.
Vir die eerste keer in die twaalf jaar wat ek op Bonnievale bly sneeu dit drie keer in een winter.
Die Theewaterskloofdam loop vir die eerste keer in ses jaar oor en die Wes-Kaap haal amptelik weer asem na die uitmergelende droogte van die afgelope paar jaar.
Namakwaland se blomme was nog nooit so mooi nie. Selfs Bonnievale se gholfklub steek nie af met sy eie pienkvygiekombers nie.
‘n Wêreldwye inperking van die mens se handel en wandel, lyk my, is al wat die natuur gekort het om terug te keer na sy normaal.
Maar dis nie net in Suid-Afrika waar die natuur weer begin herstel het nie.
Volgens Nature Climate Change het lugbesoedelingvlakke tot 17% gedaal in vergelyking met die mediaan van vorige jare in April.
Sekere streke, onder andere die Verenigde State van Amerika en die Verenigde Koningkryk, het tot ‘n derde minder uitlaatgasse vrygelaat as in dieselfde tyd in die vorige jaar. Globaal kan ons ‘n gemiddeld van 7% minder uitlaatgasse verwag vir 2020 as in 2019.
NASA het op 9 April 2020 ‘n prent vrygestel wat Maart 2015 tot 2019 se gemiddeldde stikstofdioksied (NO2) in die atmosfeer uitbeeld teenoor ‘n prent van Maart 2020. Volgens hul ontleding was daar 30% minder NO2 in 2020 as die gemiddeld van die afgelope 5 jaar.
Die aarde se atmosfeer was ook nie die enigste element wat kon herstel in die grendeltydperk nie.
Met minder toeriste wat die wêreld kon besoek, was daar minder mense by die see en riviere, wat dit kon besoedel.

In besige strate wat stil geword het as gevolg van Kovid was diere vinnig om daardie leemte te vul. In stede regoor die wêreld het diere deur die strate geloop waar mense nie meer ‘n bedreiging vir hulle was nie.
Die lewe se pas verslap en mens en natuur kan weer diep asemhaal. Dit alles dui daarop hoe vinnig die natuur weer kan herstel as mense ons deel doen.
Hierdie grendeltydperk het ons ‘n voorsmaak gegee van hoe ons wêreld kan lyk as ons na skoner energiebronne sal oorskakel en meer verantwoordelik leef.

Ek is ‘n trotse Bonnievaler, wat hou van programering en musiek. En is natuurlik, ‘n trotse VOORWAARTS-redaksielid!