Mnr. Jan du Toit: Meer as nét tuinier

Mnr. Jan du Toit: Meer as nét tuinier


Mnr. Jan du Toit is besig met een van sy vele daaglikse takies by die skool. Foto: Jana Coetzee

Mnr. Jan du Toit, of Oom Jan soos hy onder die leerders bekendstaan, is een van Hoërskool Bonnievale se algemene assistente wat die skool se tuine en terrein so mooi hou. Hy vertel meer oor wat hy doen in sy werk en deel ‘n paar interessante persoonlike onderwerpe.

Hoe lank werk Oom nou al hier by Hoërskool Bonnievale?
Ek werk nou al vir so ongeveer agt jaar hier.

Van watter gedeelte van Oom se werk hou Oom die minste en die meeste?
Ek is baie lief vir my werk, maar die gedeelte wat ek die minste van hou is om die toilette skoon te maak. Dit kan soms ‘n morsige besigheid word. Die gedeelte wat ek die meeste van hou is om die blomme en plante mooi en netjies te maak en te hou.

Hoekom het Oom besluit om hier by Hoërskool Bonnievale te kom werk?
Voordat ek hier begin werk het, het ek eers by iemand anders gewerk. Ek het daarná in 2014 ‘n tydelike pos gekry om hier te werk vir twee jaar. In 2016 het ek ‘n permanente pos gekry en nou werk ek al vir agt jaar hier by Hoërskool Bonnievale en ek geniet dit vreeslik baie om hier te werk.

Wat doen Oom in Oom se vrye tyd wanneer Oom nie by die skool is nie?
Toe ek jonger was, het ek gewoonlik saam met my gesin gaan bergklim, maar ek is nou nie meer so jonk en fiks nie. Ek het toe ‘n nuwe stokperdjie agtergekom: visvang.

Wat behels Oom se werk by Hoërskool Bonnievale alles?
In my werk is dit my verantwoordelikheid om die blomme en plante netjies te hou. Gewoonlik maak ek ook klasse en badkamers skoon. Baie keer probeer ek ook om vir tannie Wilma en oom Michael te help indien hulle hulp nodig het met hulle daaglikse take.

Wat motiveer vir Oom om in die oggende op te staan  en die dag aan te pak?
My werk is my motivering om op te staan in die oggende. Ek geniet dit om seker te maak dat die skool se terrein netjies en spoggerig lyk en om te weet ek het nou die appels gepluk van my harde werk.

Wat is die lewensdoelwitte wat Oom graag wil bereik in Oom se lewe?
Ek is nou al ‘n bejaarde man en die meeste goed wat ek wou bereik, het ek nou al bereik. Maar my laaste doelwit is om wanneer ek aftree vir ‘n rukkie langs die see te gaan bly. Nie permanent nie, want Bonnievale sal altyd my tuiste bly.

Loading


Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

2 × 5 =

Voorwaarts Skoolkoerant
Verified by MonsterInsights