Huiswerk: ten goede of nie?
Die meeste leerders regoor die wêreld voel dat huiswerk onnodig is. Hierdie probleem steek nie vandag eers kop uit nie, dit kom al eeue aan.
Dis veral moeilik vir leerders wat in die 21ste eeu grootword omdat daar soveel ander dinge is waarmee hulle hulself kan besig hou. Daar is tog merkwaardige voordele vir leerders wat wel huiswerk doen, dit sluit die volgende in:
1. Huiswerk skep ‘n kommunikasienetwerk.
Huiswerk is ‘n brug wat kommunikasielyne tussen die skool, die onderwyser en die ouer oopmaak. Dit help onderwysers om die behoeftes van hul studente en hoe om hulle te help, beter te verstaan. Dit stel ook ouers in staat om hul kind se sterk- en swakpunte uit te vind, deur na te gaan hoe die kind hul huiswerk benader.
2. Leerders se tydsbestuur word verbeter
Dit is een van die belangrikste voordele van huiswerk vir studente. Hulle leer, deur huiswerk en take, om ontspanning en werk te balanseer. Hulle sal opdragte binne spertye moet voltooi deur hul tyd vir elke taak goed in te deel en te prioritiseer. Dit help hulle om die belangrikheid van tydbestuursvaardighede te verstaan. Dit help hulle ook in hul toekomstige loopbane. Werknemers moet hul tyd doeltreffend kan bestuur om suksesvol te wees en effektief take af te handel.
3. Leerders word verantwoordelikheid geleer
Skoliere leer om onafhanklike leerders te word deur hulle huiswerk te doen sonder enige hulp van die onderwyser. Om tuis te studeer, motiveer studente ook om harder te werk om beter resultate op hul eie wyse te behaal. Hulle leer dat hulle verantwoordelikheid vir take moet neem, omdat niemand anders dit vir hulle gaan doen nie, en leer só ook dat, indien hulle take of huiswerk nie betyds voltooi is nie, hulle dáárvoor ook verantwoordelikheid moet neem.
4. Verhoog geheue retensie
Huiswerk bied oefentyd om konsepte te herroep wat in die klas bespreek is. Leerders kry nou die tyd om rustig, die feite en syfers wat by die skool geleer is te memoriseer vir toekomstige klasbesprekings oor die werk, of vir toeste. Só word geheuekrag en konsentrasie versterk.
5. Ontwikkel probleemoplossings vermoë en logiese denkwyse
Wanneer studente hul huiswerk doen, moet hulle hard werk om al die moontlike oplossings vir ‘n probleem te vind. Hulle moet verskillende metodes probeer / die vraag in verskeie maniere disekteer, totdat hulle die beste oplossing bereik. Boonop leer dit hulle ook deursettingsvermoë en help hulle om hul vasberadenheid verder te ontwikkel, om hard te bly werk.
6. Help om goeie studiegewoontes te ontwikkel/te verken
Huiswerk is ‘n goeie manier om leerders in die gewoonte te kry om te studeer en hul leervaardighede te slyp. Hulle sal leer om hul tyd op ‘n effektiewe manier te bestuur, wat hul in staat stel om werk teen ‘n vinniger tempo te doen. Hulle leer ook watter manier van werk of leer vir hulle persoonlik die beste werk. Boonop sal hulle ‘n goeie werksetiek kan ontwikkel, wat hulle in hul toekomstige loopbane sal help.
Nooit sal huiswerk vir enige skolier lekker wees nie, maar dit sal áltyd voordelig wees. Daarom moedig ek alle leerders aan om huiswerk te doen, die dag vóór dit moet klaar wees! Só sal jy werklik voordeel daaruit trek.

Ek is ‘n gebore Bonnievaler en leerder in Hoërskool Bonnievale met ‘n passie vir sport. Ek hou van sosiaal wees en tyd saam met my vriende deurbring.