Al wat ek weet — Styg uit bo jou omstandighede

Resensent: Lee-Colynn Baadjies
Al wat ek weet is ‘n jeugroman deur Marita van der Vyver, ‘n bekroonde kinderboekskrywer. Die boek is in 2017 in KykNet-Rapport Boekepryse se filmkategorie bekroon. Hierdie boek is baie belowend en kan baie tieners motiveer in moeilike situasies.
Die hoofkarakter, Gabriel, wat dit moeilik vind om oor sy gevoelens te praat, vind dit beter om van sy emosies ontslae te raak deur middel van “slam poetry”, soos hy dit noem. Gabriel ontmoet iemand waarin hy regtig belangstel: die jong sneeuwitjie wat haar eie donker probleme moet hanteer.
Tieners van vandag sukkel baie met hul eie probleme en om hul eie emosies te beheer. Die outeur maak dit met hierdie verhaal duidelik dat elke tiener sy eie manier het om sy probleme te hanteer.
Die vyftienjarige Gabriel, wat in ongewone omstandighede moes grootword nadat sy ma in ‘n motorongeluk dood is en sy pa in ‘n sielkundige inrigting opgeneem is, moet ook ‘n manier vind om sy probleme te hanteer. Hy sien geen ander manier as om in sy sak vol lirieke te grawe en dit vir die gehoor soos brandende kole te gooi nie.
Hierdie boek is in die Kaapse Afrikaanse dialek geskryf. Die boek maak dit duidelik: dit maak nie saak waardeur jy gaan nie, jy kan altyd daaruit styg en aan die anderkant uitkom.
Hierdie boek sal ek vir tieners en grootmense aanbeveel. ‘n Mens is nooit te oud of te jonk om ‘n lewensles uit hierdie boek te leer nie.

Ek is Lee-Colynn Baadjies — trotse Bonnie en trotse redaksielid.
One Reply to “Al wat ek weet — Styg uit bo jou omstandighede”
Lee-Colynn, jy het my nou lekker lus vir lees gemaak!