Die lewe ís baie kort

Jasper: die hond wat so bly is om jou te sien, mal is oor die beeskraal en jou byt dat jy bloei. Nou is hy weg… ver weg…
Toe ek by die huis kom ná die Bonnies Got Talent-aand, word die hartseer nuus aan my gebreek. Eers dink ek my broer trek my been toe hy sê Jasper is dood, maar nee, hy is doodernstig. My pa het régtig per ongeluk oor hom gery.
Ek gaan lê op my bed en toe sink die realiteit in. Jasper is dood. Hy was elf weke en vier dae oud, maar nou is hy dood. Hy kom nooit weer terug nie. Ek gaan op my selfoon om my vriende te laat weet. Dit tref my toe soos ‘n vuishou in die maag.
Wat as ek nie vandag foto’s van hom geneem het nie?
Ek sou net die dowwe foto’s gehad het wat ek die ander dag geneem het. Hy was mos nie eintlik ‘n hond wat stil gesit het nie.
Wat as ek nie die onmoontlike taak aangepak het en hom gebad het nie?
Hy sou vuil gewees het vir die hemel. Hy sou stink na beesmis, want sy gunstelingplek was tussen die beeste.
Wat as my pa nie vir hom die pragtige nuwe hok gekoop het nie?
Hy sou dink dat ons hom nie lief gehad het nie.
Toe huil ek. Ek huil dat my kussing sopnat is en my snesies amper op is. Ek gaan deur die foto’s van hom… dit is seker nie die beste foto’s nie, maar goed genoeg om die mooi herinneringe van hom te onthou.
Die lewe is kort, BAIE kort. Doen wat jy kan, wanneer jy kan, so goed as wat jy kan.

Ek lewe vir my familie en om om ‘n kampvuur te sit in Jongensfontein is hemel op aarde. Kersfees is my heel gunstelingdeel van die jaar. Ek hou van bak en brou en flieks en reekse kyk. HSB het vir my twaalf goue jare gegee en Voorwaarts-redaksie was het vier van daardie jare nóg beter gemaak.