Vryheidsdag of net dag van vryheid?

Vryheidsdag of net dag van vryheid?


Verstaan mense werklik nog die betekenis van Vryheidsdag? Foto: pinterest.com

Dit is so lekker om vandag by die huis te kan sit en hierdie berig te tik. Waarvoor meer kan ʼn mens vra? Nie net is dit ‘n Vrydag nie, maar nog beter: geen skoolbank gaan my vandag sien nie. Dankie 27 April. Jy het mos ontstaan om ons ‘n blaaskans van die dreigende skoolwerk te gee, of hoe?

Om nou eerlik te wees, ek was nie 100% seker wat presies 27 April so ʼn merkwaardige dag maak nie. Maar dankie vir die hulp, Google. Wel, ek neem nie Geskiedenis op skool nie so waarom móét ek in elk geval weet, reg?

Verkeerd. ʼn Vinnige Geskiedenisles: op 27 April 1994 het die eerste demokratiese verkiesing in Suid-Afrika plaasgevind. ʼn Dag wat gesien word as die begin van ʼn skoon blaadjie ná die onregverdige geskiedenis van Suid-Afrika. ʼn Dag wat die kettings van onregverdigheid gebreek het. Maar, ʼn dag wat nóú, 24 jaar later, net nog ʼn vakansiedag is.

Dink ʼn bietjie hoe anders sou jóú lewe wees as dit nie vir Vryheidsdag was nie (en dit is nie ʼn cliché nie). Hoe sou jou skool lyk? Hoe anders sou dit wees in jou klaskamer? Sou jy dieselfde vriende gehad het?

Ek gaan nie nou bloed uit ʼn klip probeer tap en ʼn optog deur die strate reël ter herdenking van dié dag nie. Nee, ek gaan vandag steeds rustig by die huis sit en my vryheid van nie-skool-toe-gaan-nie geniet, maar ek gaan ook die vryheid wat ons as mense het waardeer.

Dit is regtig tyd om ons siening van hierdie dag te verander. Waardeer jou vryheid en gebruik dit as wapen om die wêreld ʼn beter plek te maak.

Die beroemde fisikus, Albert Einstein, beskryf dit akkuraat: “Everything that is really great and inspiring is created by the individual who can labor in freedom.”

Loading


Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

fifteen + fourteen =

Voorwaarts Skoolkoerant
Verified by MonsterInsights