Tatoeëermerke: Versiering of ontsiering?

Tatoeëering: Die kunswerk van liggaamlike versiering en die helpende hand om iets of iemand spesiaal te onthou.
Tatoeëering is nie ‘n moderne verskynsel nie, dit dateer reeds uit die eeue voor Christus. In die Ou Nabye Ooste was tatoeëering en die aanbring van merke aan mense se liggame baie algemeen. Tatoeëermerke was vroeër jare vir slawe gegee om hulle uit te ken. Dit het vir mense gesê aan wie daardie slawe behoort. In sekere kulture was dit ‘n statussimbool onder slawe om die tatoeëermerk van sekere eienaars te hê. Mettertyd het selfs die personeel van sekere tempels merke op die voorkop, gesig, hande of arms gekry om aan te dui dat hulle afgesonder was vir die diens aan sekere gode. Tatoeëermerke word tot vandag toe deur sekere kulture gebruik as teken van hulle getrouheid aan hul geloof, tradisies of kulturele oortuigings.

In Europa en Noord-Amerika word die mening oor tatoeëermerke stééds beïnvloed deur stereotipes wat gebaseer is op afwykende sosiale groepe van die 19de en 20ste eeu. In die 1960’s en -70’s het mense tatoeëermerke begin verbind met sekere groepe, soos motorfietsryers en gevangenes. Dit is as gevolg hiervan wat talle mense ‘n negatiewe lig op tatoeëermerke skyn. Maar gedurende die 21ste eeu het mense ‘n positiewe idee begin ontwikkel rondom tatoeëermerke en al hoe meer hierdie versiering ondersteun.
Tatoeëermerke kan ook mense help om van ander te leer deur die prente, woorde of slagspreuke op hulle liggame en die rede daaragter; soms ingewikkeld en hartseer, ander tye vrolik en vir die eenvoudige rede van versiering. Ek dink dat ander mense mense met tatoeëermerke se keuse moet respekteer, net soos om ander se opinies, tradisies en kulture te respekteer.

Tatoeëermerke is egter nie net ‘n paar prentjies op jou lyf nie, dit word ook al gebruik vir kosmetiese doeleindes, soos permanente grimering of om velverkleurings te verbloem. Dit sluit die tatoeëering van lippe, oogwenke (omlyner), ooglede (omlyner), wenkbroue en selfs moesies in. Natuurlike kleure word gewoonlik daarvoor gebruik omdat dit veronderstel is om soos grimering te lyk.
Indien jy ‘n tatoeëermerk wil kry is dit wel ‘n goeie keuse om goed te dink oor wat dit gaan wees, hoekom en waar jy dit wil hê. Moenie ‘n permanente prent of slagspreuk kry waaroor jy spyt sal wees oor ‘n jaar of twee nie. Dink eers dié besluit deeglik deur om ‘n pynvolle laserverwyderingsproses te verhoed.
Na my mening is dit nie sonde om jou liggaam te tatoeëer as versiering nie. Ons moet egter altyd bly vra of ek só optree, en my liggaam só versier dat ek steeds die eer van Christenwees behou. Ek dink dat tatoeëermerke ‘n pragtige herinnering aan ‘n spesiale oomblik of gebeurtenis kan wees, of selfs ‘n oulike versiering indien dit nie ander negatief affekteer nie. Daar is egter nie fout met tatoeëering volgens my nie.

Ek is ‘n gebore Bonnievaler en leerder in Hoërskool Bonnievale met ‘n passie vir sport. Ek hou van sosiaal wees en tyd saam met my vriende deurbring.