Bonnie-mentor maak hart oop

Bonnie-mentor maak hart oop


Juf. Mari Boshoff
Juffrou Mari by haar spesiale dag in 2018. Foto: Verskaf

Juffrou Mari Boshoff, jeugmentor by HSB, deel haar hart in hierdie ope brief:

Op 26 November 2018 ontvang ‘n pasgetroude paartjie vanuit die Hoëveld, Mpumalanga, nuus dat hulle lewe vir ewig sal verander. Hoërskool Bonnievale het besluit om die Boshoff-egpaar vanaf 2019 as jeugmentors aan te stel. In die eerste weke van ons skuif na Bonnievale was ek telkemale onseker oor al die emosies wat ek beleef, maar dat die trane om verskeie redes baie was, is ‘n realiteit. My hart is absoluut kinders, jongmense – eintlik net enige iemand wat bereid is om liefde te ontvang. Jeugbediening is nou meer as vyf jaar deel van my hartklop en sedertdien kyk en nie vir een oomblik terug nie.

Die voorreg van jeugmentor wees by HSB begin by ‘n helpende hand en ‘n begripvolle oor vir ons hoër- en laerskoolmeisies. Saam met ‘n kosbare span mense bied dit verder ook aan my die geleentheid om geestelik in jongmense se lewens in te plant by Kruisklub, saalbyeenkomste, kampe en koshuis-selgroepe. Verder leef ek passievol oor Jesus-geïnspireerde leierskap en skep HSB vir my en my man die platform om ook op hierdie vlak in ons leerders se lewens in te plant.

Met groot opwinding verklap ek ook vandag ietsie van HSB se toneelgroep vir 2019. Nege passievolle, jong akteurs en aktrises is tans besig om saam met drie van ons leerkragte voor te bereid vir hierdie jaar se toneelstuk. Ure se skryf, lag, lawwigheid en woorde leer behoort vroeg in die vierde kwartaal op die planke te verskyn. Moet dit nie misloop nie.

In die tussentyd besef ek dat God ons hart se sagste smeekgebede hoor wanneer ek in die oggend wakker word tussen voëlgeluid en – in die woorde van T.T. Cloete – “mis wat soos melk afspoel teen die ruite.” Terwyl my wortels tussen die wingerde hier in die Boland ‘n plekkie vind om in te plant het ek groot waardering vir elke gesin of individu wie se harte en huise vir ons oop staan. Ek is dankbaar vir soveel genade, vir die leerskole van die lewe waarmee ek elke dag verbaas word en dat HSB vir hierdie tyd en plek deel is van ons storie.

Groete
Mari Boshoff

Loading


Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

seventeen − nine =

Voorwaarts Skoolkoerant
Verified by MonsterInsights