Twee medaljes en 16,35 meter later

Lleyton Davids (o.19) en Fleur Slot (o.19) het vanaf 20 tot 23 Maart 2019 Hoërskool Bonnievale (HSB) se naam tydens die Suid-Afrikaanse Atletiekkampioenskappe (SA’s) hoog bo die dwarslat gehou.
Fleur het in 2017 vir die eerste keer aan die SA’s deelgeneem en het ‘n tweede plek verwerf in hoogspring met ‘n hoogte van 1,73 m. Vanjaar het sy met ‘n hoogte van 1,65 m in die derde plek geëindig.
“Ek het baie gestres oor die SA’s, want ek het geweet dat die beste van die beste atlete daar sou wees,” het Fleur gesê. “‘n Baie lekker voordeel van die atletiek is dat ek altyd nuwe mense en vriende ontmoet. Ek gaan definitief nie ná skool ophou met atletiek nie!”
Vanjaar was Lleyton se heel eerste keer by die SA’s en hy het puik presteer. Hy het net soos Fleur met ‘n bronsmedalje om die nek terug HSB toe gekom. Met ‘n afstand van 14,70m het Lleyton die derde plek in driesprong behaal.
Albei atlete het ook aan vanjaar se ASA Kampioenskappe deelgeneem. Fleur het ‘n vierde plek in die hoogspring vroue o.20-item behaal met ‘n hoogte van 1,65m en Lleyton het ‘n sesde plek in die driesprong vir mans o.20-item behaal met ‘n afstand van 14,24m.



Ek probeer om die lewe lig te hou.