Toep gee 30 dae oefenmotivering
2020 is vir seker nie ‘n jaar wat ons sal onthou vir sportprestasies of uitmergelende oefening en voorbereiding nie.
Oefening by die skool vind nie meer plaas nie en baie van ons het die motivering om te oefen verloor. Dus is motivering om by die huis te oefen broodnodig. Die toep, Abs workout, is ‘n baie goeie manier om terug op die oefenwa te klim!

Hierdie 30 dae-maagspier-oefening-toep is beskikbaar op Google Play Store . Dit is baie maklik om te gebruik en nóg makliker om in te stel.
Die toep het nie net ‘n beginner- en ‘n gevorderde opsie nie, maar daar is ook strekoefeninge wat jy daagliks kan doen.
Daar is ook ‘n opsie om vir enige tyd van die dag ‘n wekker te stel om jou te herinner om te oefen of te strek.
Nadat jy jou daaglikse oefeninge klaargemaak het, gee die toep vir jou wenke vir beter oefening en gesondheid.
Jy kan jou gewig en hoogte invul om te kyk of jou gewig op ‘n gesonde vlak is vir jou ouderdom. Jy kan kan ook kontroleer hoeveel gewig jy gedurende die oefeninge verloor.
Indien jy nie enige oefengereedskap het nie, hoef jy glad nie bekommerd te wees nie omdat jou eie liggaamsgewig in die oefeninge gebruik word.
Wanneer jy oefen en nie seker is hoe om die oefening te doen nie kan jy op die video-ikoon klik en ‘n kort video kyk, met geskrewe instruksies daarby.
Die oefenige verloop vanaf maklike en kort oefeninge na moeiliker en langer oefeninge soos wat die dae meer raak. Daar is ook afgemerkte rusdae sodat jy nie jouself ooreis nie.
Ek gebruik self hierdie toep en vind dit baie behulpsaam. Dit motiveer my om elke dag te oefen en om gesonder te eet.
Die oefeninge is glad nie moeilik indien jy eers ná ‘n ruk weer begin oefen nie. Hierdie toep is ideaal om te werk aan jou six-pack vir die somer!
![]()

Ek is ‘n gebore Bonnievaler en leerder in Hoërskool Bonnievale met ‘n passie vir sport. Ek hou van sosiaal wees en tyd saam met my vriende deurbring.