Hoe onthou jy?

Hoe onthou jy?


Soos die November-eksamen nader sluip, druis daar ‘n gesamentlike sug oor die heelal soos 10 000 kinders boeke nader sleep om dit in hulle geheue te begin prop.

Om reg te wees vir die eksamen, sal leerders werk moet memoriseer. Memorisering bevat drie stappe: enkodering, konsolidasie en berging.

Enkodering begin met ervaring. Jy is bewus van iets en gee dus daaraan aandag. Jou brein ervaar baie verskillende sensasies (hoe dit ruik, klink, lyk) in verskillende streke en stuur dit dan na die hippokampus waar alles tot een ervaring gevorm word. Dan “besluit” die hippokampus of hierdie ervaring in jou langtermyn-geheue gebêre of vergeet gaan word.

Volgens Human-memory.net is daar gevind dat as jy sterk emosies ervaar tydens ‘n gebeurtenis of as ‘n gebeurtenis ‘n baie persoonlike betekenis het, jy meer geneig sal wees om dit te onthou. Die menslike geheue is ook baie assosiatief — dit onthou goed makliker wat dit met ander goed kan assosieer. Dit is hoekom ons werk wat ons nie verstaan nie so maklik vergeet; ons het niks om daarmee te assosieer nie.

As die hippokampus besluit om die ervaring te bêre in die langtermyn-geheue, vind konsolidasie plaas. Dit wil sê jou herinnering verander weens gebeure wat ná die herinnering gebeur. Ons breine werk deur verskillende neurone wat met mekaar kommunikeer. Hoe méér hierdie neurone met mekaar kommunikeer, hoe makliker is dit vir hulle om met mekaar te komunikeer. Dit is hoekom jy verbeter as jy iets oefen – jou neurone kommunikeer makliker met mekaar. Dit beteken egter ook dat as jy iets gelees het in jou handboek, soos ‘n datum (byvoorbeeld 1752), maar al jou vriende sê dat dit ‘n ander datum is (byvoorbeeld 1753) jou brein homself sal herbedraad totdat jy later die datum “onthou” as 1753.

Voorstelling van hoe kommunikasie tussen neurone versterk tydens die vorming van ‘n herinnering. Grafika: News-medical.net

Maar dit is nog nie al nie. Nadat jou herinnering gevorm is en weer hervorm is, moet dit gestoor word deur middel van berging. Jou brein stoor nie ‘n herinnering as ‘n boek nie. Dit breek dit op na verskillende verspreide neurone in die brein wat geprogrammeer is om in ‘n spesifieke volgorde te aktiveer wat veroorsaak dat jou brein weer tydelik die gebeurtenis herleef.

Dit help egter nie as jy nie toegang tot hierdie herinnering kan kry nie. Ja, selfs al is dit gestoor, is daar steeds ‘n kans dat jou brein dit nie sal kan opspoor nie. As, byvoorbeeld, die neuron wat met ‘n vraag te doen het aktiveer, maar nie gewoond daaraan is om te kommunikeer met die neuron wat die antwoord het nie, maar eerder met ‘n ander neuron waarmee hy meer dikwels kommunikeer, kan jy die antwoord mis. Dit is verantwoordelik vir daardie gevoel wat jy kry dat daar iets op die punt van jou tong is. Jy “ken” die antwoord, maar jy kan net nie daarby uitkom nie.

Die goeie nuus is dat ons brein se langtermyn-geheue verstommend groot is. Die slegte nuus is: jy gaan nie altyd alles kan kry wat gestoor is nie.

Loading


Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

12 − 6 =

Voorwaarts Skoolkoerant
Verified by MonsterInsights